ESEGIËL 17 - Nuwe Lewende Vertaling

’n Verhaal van twee arende

1Toe het ek hierdie boodskap van die Here gekry:

2“Mensekind, vertel hierdie storie, hierdie gelykenis vir die mense van Israel.

3Sê vir hulle die oppermagtige Here sê:

“‘’n Groot arend met wye vlerke

en bont vere

het na die Libanon toe gekom.

Hy het die top van ’n seder gevat

4en dit afgepluk.

Toe het hy dit weggedra

na ’n stad vol handelaars

en dit daar geplant.

5“‘Hy het ook ’n steggie

uit jou land gevat

en dit in vrugbare grond

langs ’n breë rivier geplant.

Hier sou dit so vinnig groei

soos ’n wilgerboom.

6Dit het wortelgeskiet

en ’n wingerdstok geword,

welig, maar laag op die grond.

Sy takke het opgegroei

na die arend toe,

en sy wortels

was diep in die grond.

Dit het sterk ranke uitgestoot

met baie blare.

7Maar ’n ander groot arend

met breë vlerke en baie vere

het toe verbygekom.

Die wingerdstok

het sy wortels en takke

na hom toe uitgesteek vir water.

8Die wingerdstok het dit gedoen

al was daar goeie grond

en genoeg water

sodat dit ’n sterk wingerdstok

met baie blare

en druiwe kon word.’

9“Jy moet sê:

‘Die oppermagtige Here vra:

Sal dit goed gaan

met die wingerdstok?

Sal dit nie ontwortel word,

gestroop van al sy vrugte

sodat dit verdroog nie?

Selfs die nuwe groei

sal verskrompel.

Baie mense of baie krag

is nie nodig

om die wingerdstok

wortel en tak uit te roei nie.

10As die wingerdstok

oorgeplant is,

sal dit groei?

Sal dit nie heeltemal verdroog

wanneer die oostewind

dit tref nie?

Dit sal verdroog

in dieselfde grond

waarin dit nou

so mooi uitspruit.’”

Die gelykenis verduidelik

11Toe sê die Here vir my:

12“Sê vir hierdie opstandige mense: Verstaan julle nie die betekenis van die gelykenis van die arende nie? Ek sal vir julle verduidelik, sê die oppermagtige Here.

“Die koning van Babilon het na Jerusalem gekom. Hy het haar koning en leiers weggeneem en hulle na Babilon toe saamgeneem.

13Hy het ’n ooreenkoms met ’n lid van die koning se familie gesluit en hom ’n eed laat aflê dat hy lojaal sou wees. Hy het ook haar mees invloedryke leiers in ballingskap weggevoer

14sodat Israel nie weer sterk kon word en in opstand kom nie. Sy kon oorleef slegs as sy haar hou by haar ooreenkoms met Babilon.

15“Maar daardie koning het in opstand gekom en ambassadeurs na Egipte toe gestuur om ’n groot leërmag en baie perde te kry. Sal hy suksesvol wees? Sal die mens wat sulke dinge doen daarmee wegkom? Sal hy die ooreenkoms verbreek en tog ontsnap?

16So seker as wat Ek leef, sê die oppermagtige Here, hy sal in Babilon sterf, in die land van die koning wat hom op die troon gesit het. Hy het dié koning se ooreenkoms verag en verbreek.

17Wanneer oorlog uitbreek en Jerusalem beleër word, sal die farao en sy magtige leër nie vir Israel kan help nie. Baie sal hulle lewe verloor,

18want die koning het die eed wat hy afgelê het, geminag deur die ooreenkoms te verbreek. Hy het gesweer dat hy gehoorsaam sou wees; daarom sal hy nie ontsnap nie.

19“So sê die oppermagtige Here: So seker as wat Ek lewe, Ek sal hom straf omdat hy die ooreenkoms met My verbreek het en die eed geminag het wat hy in my Naam gesweer het.

20Ek sal my vangnet oor hom gooi en hom vang. Ek sal hom na Babilon toe bring en hom daar oordeel omdat hy verraad teen My gepleeg het.

21En al sy beste soldate sal doodgemaak word. Dié wat in die stad oorbly, sal in alle windrigtings verstrooi word. Daardie dag sal julle weet dat Ek, die Here, so gesê het.

22“Die oppermagtige Here sê: Ek sal ’n takkie van die top van ’n hoë seder neem en dit plant. Ek sal ’n takkie afpluk en dit op ’n hoë berg plant.

23Ek sal dit op ’n hoë berg in Israel plant. Dit sal takke vorm en vrugte dra. Dit sal ’n groot seder word. Allerhande voëls sal daarin nes maak en skuiling tussen die takke kry.

24En al die bome sal weet dat dit Ek, die Here, is wat die groot boom afgekap het en die klein boompie groot laat word het. Dit is Ek wat die groen boom laat verdroog en nuwe lewe vir die dooie boom gee. Ek, die Here, het gepraat! Ek sal doen wat Ek gesê het.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help