JOB 16 - Nuwe Lewende Vertaling

Job praat die vyfde keer wanneer hy Elifas antwoord

1Job het weer gepraat:

2“Ek het dit alles

al vantevore gehoor!

Wat ’n hopelose klomp troosters

is julle nie!

3Gaan julle nooit ophou

met julle dwase gepraat nie?

Wat dryf julle

dat julle so eindeloos

aanhou praat?

4Ek sou dieselfde as julle kon sê

as julle in my plek was.

Ek kon ook my kritiek

oor julle giet

en my kop vir julle skud.

5Nee, dis nie

wat ek sou doen nie.

Ek sou eerder iets sê

wat julle kon bemoedig.

Ek sou probeer

om julle hartseer te verlig.

6“Maar soos dit nou is,

bly my pyn,

hoe ek ook al myself

probeer verdedig.

Dit help ook nie as ek weier

om te praat nie.

7O God,

U het my gedaan gemaak.

U het my hele familie uitgeroei.

8U het my krag verminder

as bewys van my sonde.

U het my vel en been gemaak

en dit getuig teen my.

9God val my aan.

Hy vernietig my liggaam.

Hy kners sy tande teen my

en deurboor my met sy oë.

10Mense spot en lag vir my.

Hulle klap my in my gesig.

’n Gespuis versamel teen my.

11God het my oorgegee

aan sondaars.

Hy het my gegooi

in die hande

van kwaaddoeners.

12Ek het rustig geleef,

maar toe breek Hy my lewe

in stukke.

Hy het my

aan die nek gegryp

en my aan stukke geslaan.

Ek het sy teiken geword.

13Sy boogskutters omring my

en sy pyle deurboor my

sonder genade.

Die grond is deurweek

met my bloed.

14Weer en weer slaan Hy my.

Hy storm af op my

soos ’n soldaat op sy prooi.

15“Hier sit ek nou in sak en as.

Ek het oorgegee

en sit in die stof.

16My oë is bloedrooi gehuil.

Daar is swart kringe

onder my oë.

17En tog is ek

al die tyd onskuldig.

My gebed is opreg.

18“Moenie my bloed verberg nie,

o aarde.

Laat dit ter wille van my

uitskreeu!

19Selfs nou is my getuie

in die hemel.

My verdediger is daarbo.

20My vriende verag my,

maar ek stort my trane uit

voor God.

21O, dat iemand

’n middelaar sal wees

tussen my en God,

soos iemand pleit

vir sy vriend.

22“Want baie min jare wag vir my.

Daarna gaan ek op die pad

na die plek van waar ek

nie sal terugkeer nie.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help