HOSEA 8 - Nuwe Lewende Vertaling

Israel oes die stormwind

1“Maak alarm! Die vyand is soos ’n arend wat draai oor die huis van die Here. Hulle het my verbond verbreek en teen my voorskrifte in opstand gekom.

2Nou pleit Israel by My: ‘Help ons, want ons ken U, ons God!’

3Maar dit is te laat! Die volk Israel het die goeie dinge verwerp; nou sal sy vyande op hom jag maak.

4Hulle het konings en amptenare aangestel, maar dit was sonder my goedkeuring. Hulle het vir hulleself afgode van silwer en goud gemaak, maar dit was tot hulle eie vernietiging.

5“Samaria, Ek verwerp hierdie kalf, hierdie afgodsbeeld van julle. My woede het teen julle ontvlam. Hoe lank nog sal hulle onrein bly?

6Julle kalf kom uit Israel – ’n ambagsman het dit gemaak! Dis nie ’n god nie! Daarom sal daar net splinters van die kalf van Samaria oorbly.

7“Hulle het wind gesaai en sal ’n storm oes. As die koring nie are maak nie, sal daar geen meel wees nie. En as daar enigsins koring is, sal vreemdelinge dit insluk.

8Israel is reeds ingesluk. Onder die nasies is hulle soos ’n voorwerp wat niemand meer wil hê nie.

9Israel het na Assirië toe gegaan net soos ’n eensame wildedonkie wat na ’n maat soek, en het vir homself minnaars gaan koop.

10Maar al het hy bondgenote onder baie lande gehuur, sal Ek hulle nou bymekaarmaak. Dan sal hulle swaarkry onder die las van die magtige koning.

11“Israel het baie altare gebou om sonde-offers daarop te bring, maar juis hierdie altare het die plekke geword waar sonde gepleeg word!

12Al sou Ek ook ’n menigte van my gebooie aan hom gee, sal dit vir hom iets vreemds wees.

13Hulle hou daarvan om offers vir My te bring en die vleis daarvan te eet, maar Ek verwerp hulle offers. Ek sal hulle sondes onthou en hulle tot verantwoording roep: hulle sal na Egipte toe teruggaan.

14“Want Israel het sy Maker vergeet en paleise gebou. Juda het versterkte stede opgerig. Daarom stuur Ek ’n vuur in hulle stede wat hulle vestings sal vernietig.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help