PSALMS 25 - Nuwe Lewende Vertaling

Ek vertrou op die Here

1’n Dawidspsalm.

Ek rig my tot U, Here.

2Ek vertrou op U, my God!

Moenie dat ek

in die skande kom,

of my vyande

oor my laat juig nie.

3Niemand wat op U wag,

word ooit beskaam nie,

maar húlle word beskaam

wat bedrieg sonder oorsaak.

4 Here, wys my die weg

wat ek moet gaan,

leer my u paaie.

5Lei my deur u waarheid

en leer my,

want U, o God, is my redder.

Die hele dag wag ek vol hoop op U.

6Dink, o Here, aan u liefde

en medelye,

van altyd af deur U bewys.

7Moenie dink aan die opstand

en die sonde van my jeug nie;

Here, dink eerder aan my

met troue liefde,

ter wille van u goedheid.

8Die Here is goed

en doen wat reg is.

Daarom wys Hy vir sondaars

die regte pad.

9Mag Hy die nederiges

op die regte weg lei,

en vir dié wat beskeie is,

sy pad leer.

10Die paaie van die Here

is goedheid en trou

vir dié wat getrou is

aan die bepalings

van sy verbond.

11Ter wille van u Naam, Here,

vergewe tog my sondes,

want dit is baie.

12Wie is die een

wat die Here dien?

Hy sal hom wys

watter pad hy moet kies.

13Hy sal in voorspoed lewe,

en sy nageslag

sal die beloofde land beërwe.

14Die Here se voorneme

is duidelik

vir dié wat Hom dien.

Aan hulle

maak Hy sy verbond bekend.

15Ek kyk altyd op na die Here

vir hulp,

want Hy sal my voete

van die vangnet bevry.

16Draai u gesig na my

en bewys genade aan my,

want ek is alleen

en in diep nood.

17Die kwellinge van my gedagtes

word al meer.

Verlos my tog

uit hierdie ellende!

18Kyk na my pyne en kwellinge,

en vergeef tog al my sondes.

19Kyk hoeveel vyande

is teen my,

hoe hulle my haat met venyn!

20Beskerm my en red my!

Bewaar my van vernedering,

want ek vertrou op U.

21Mag opregtheid en eerlikheid

my beskerm,

want ek wag op U.

22O God, bevry Israel

uit al sy nood.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help