1 PETRUS 5 - Nuwe Lewende Vertaling

Die ouderlinge moet God se kudde as herders goed oppas

1Nou rig ek my tot die ouderlinge onder julle. Ek is self mede-ouderling én getuie van die lyding van Christus. Ek sal self ook deel hê aan sy heerlikheid wat geopenbaar gaan word. As ’n mede-ouderling doen ek ’n beroep op julle:

2As herders moet julle die kudde van God goed oppas; hulle is aan julle toevertrou. Hou gewillig toesig oor hulle, nie omdat julle gedwing word nie, maar omdat julle wil doen wat God wil hê; nie om julleself finansieel te verryk nie, maar omdat julle graag in God se diens staan.

3Moenie baasspeel oor dié wat God aan julle sorg toevertrou het nie, maar stel die voorbeeld vir die kudde.

4En wanneer die Hoofherder verskyn, sal julle deel kry aan sy heerlikheidskroon wat nooit vergaan nie.

Die jong manne moet hulle taak in alle nederigheid uitvoer

5En julle, jong manne, erken die gesag van die ouderlinge. Trouens, almal moet nederig in mekaar se diens staan, want:

“God is téén dié wat te veel van

hulleself dink,

maar dié wat besef hoe afhanklik

hulle van Hom is,

aan húlle

gee Hy sy genade.”

6Word daarom klein onder die kragtige hand van God; op sý tyd sal Hy julle groot maak.

7Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om.

Wees op julle hoede vir die duiwel en dink aan die komende heerlikheid

8Wees versigtig! Pas op vir die duiwel se aanvalle. Hy is julle groot vyand. Hy loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.

9Hóm moet julle teenstaan deur standvastig in julle geloof te bly. Julle weet mos: Dwarsdeur die wêreld verduur lede van God se gesin dieselfde soort lyding.

10In sy genade het God julle geroep om in Christus deel te hê aan sy ewige heerlikheid. Nadat julle ’n kort tydjie swaargekry het, sal Hy julle self weer herstel; Hy sal julle moedig, sterk en standvastig maak.

11Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid! Amen.

Die doel van die brief, groete en seëngroet

12Ek skryf hierdie kort briefie aan julle met Silvanus se hulp. Hy is ’n getroue broer. Die doel met my brief is om julle te bemoedig en te verseker dat die genade van God met julle is, ongeag wat met julle gebeur.

13Julle susterskerk hier in Rome stuur vir julle groete. Markus, my seun, stuur ook vir julle groete.

14Groet mekaar met ’n soen van Christelike liefde.

Vrede vir julle almal wat aan Christus verbind is!

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help