SPREUKE 31 - Nuwe Lewende Vertaling

1Die woorde van koning Lemuel van Massa.

’n Uitspraak, wat sy ma vir hom geleer het:

2My seun, my kind

wat ek in die wêreld gebring het,

oor wie ek ’n gelofte afgelê het,

3jy moenie jou lewe

op vroue verspil nie.

Moenie jou lewe deurbring

met hulle wat konings

laat struikel nie.

4Lemuel, dit pas beslis nie by konings

om te veel wyn te drink nie.

Dit pas nie regeerders

om hulle aan drank

oor te gee nie.

5Wanneer hulle gedrink het,

vergeet hulle die wet

en laat hulle nie reg geskied

aan al hulle arm onderdane nie.

6Gee sterk drank vir hulle

wat besig is om dood te gaan.

Laat hulle wat terneergedruk is,

wyn drink.

7Laat hulle drink

om te vergeet

hoe arm hulle is.

Laat hulle vergeet

van hulle sorge.

8Praat namens hulle

wat nie self kan praat nie.

Verseker dat daar reg geskied

aan hulle wat hulpeloos is.

9Maak oop jou mond

en lewer regverdige uitsprake.

Laat reg geskied

aan armes en ellendiges.

Die uitnemende vrou

10Waar sal jy ’n knap vrou kry?

’n Goeie vrou

is meer werd as edelstene.

11Haar man

het volkome vertroue in haar.

Hy pluk die vrugte

van haar werk.

12Haar hele lewe lank

bring sy vir hom net voordeel,

nie ellende nie.

13Sy kry wol en vlas in die hande

en verwerk dit met genot.

14Sy is soos die handelskepe,

van ver af bring sy haar kos in.

15Sy staan op

as dit nog nag is.

Sy maak ontbyt

vir haar huisgesin.

Die dag se werk

deel sy aan haar slavinne uit.

16Sy bereken die waarde

van ’n stuk grond

en koop dit.

Sy plant ’n wingerd daarop

met die geld wat sy verdien.

17Sy werk baie hard.

Haar hande

staan vir niks verkeerd nie.

18Sy kyk of haar transaksies

winsgewend is.

Haar lamp brand

deur die hele nag.

19Sy werk met die spinwiel,

haar hande is bedrywig

met die weefbalk.

20Haar hand is oop

vir die armes.

Sy is vrygewig

teenoor behoeftiges.

21Die wintersneeu hou geen vrees in

vir haar huisgesin nie.

Hulle het almal warm klere.

22Sy maak vir haarself dekens.

Sy dra goeie klere

van linne en wol.

23Almal in die poort

ken haar man.

Hy dien op die raad

van die leiers van die land.

24Sy verkoop die klere

wat sy maak

en voorsien handelaars

van gordels.

25Sy het innerlike krag

en waardigheid.

Sy is nie bekommerd

oor die toekoms nie.

26Sy praat met wysheid,

sy gee raad

saam met liefde.

27Sy hou toesig

oor alles wat in haar huis gebeur.

Sy verdra nie luiheid nie.

28Haar kinders staan op

en prys haar.

Haar man

spog met haar:

29“Daar is baie knap vroue,

maar jy is die beste van almal!”

30Skoonheid is soms misleidend.

’n Mooi voorkoms

hou nie vir altyd nie.

’n Vrou wat ontsag het vir die Here

verdien om geprys te word.

31Gee vir haar die waardering

wat sy verdien.

Laat sy erkenning geniet

in die stadspoort

op grond van alles

wat sy gedoen het.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help