AMOS 7 - Nuwe Lewende Vertaling

’n Visioen van sprinkane

1Die oppermagtige Here het my ’n visioen laat sien. Ek het gesien dat Hy besig was om ’n swerm sprinkane gereed te maak. Dit was net toe die graan weer begin opkom het nadat die koning se deel afgeoes was.

2Ek het gesien hoe die sprinkane alles wat groen was, afgevreet het. Toe het ek gesê: “Oppermagtige Here, vergewe ons tog, asseblief! Israel is maar ’n klein volkie en sal nie oorleef as U nie vergewe nie.”

3Die Here het hulle jammer gekry en gesê: “Ek sal dit nie laat gebeur nie.”

’n Visioen van vuur

4Die oppermagtige Here het my weer ’n visioen laat sien. Ek het gesien dat Hy sy volk wou straf deur ’n groot vuur te stuur. Die vuur het eers die diep onderaardse water laat opdroog en was besig om die hele land te verteer.

5Toe het ek gesê: “Oppermagtige Here, moet dit asseblief nie doen nie. Israel is maar ’n klein volkie en sal dit nie oorleef nie.”

6Die oppermagtige Here het weer vir hulle jammer gevoel en gesê: “Ek sal dit ook nie laat gebeur nie.”

’n Visioen van ’n skietlood

7Ek het nog ’n visioen gesien.

Die Here het

by ’n loodregte muur gestaan

met ’n skietlood in sy hand.

8Die Here vra toe vir my:

“Wat sien jy, Amos?”

Ek het geantwoord:

“’n Skietlood.”

Toe sê die Here:

“Ek gaan my volk Israel

met ’n skietlood toets.

Ek gaan hulle verkeerde optrede

nie meer oorsien nie.

9Ek gaan die aanbiddingsplekke

wat Isak opgerig het

en die heiligdomme van Israel

vernietig.

Ek gaan oorlog laat uitbreek

teen die koningshuis

van Jerobeam.”

Amos en die priester Amasia

10Amasia was ’n priester in Bet-El. Toe hy hoor wat Amos sê, het hy vir Jerobeam, die koning van Israel, ’n boodskap gestuur: “Amos is besig om ’n komplot teen Israel te smee. Al hierdie dinge wat hy sê, sal die land net skade aandoen.”

11Amos het gesê:

“Jerobeam sal binnekort

gewelddadig sterf

en Israel sal in ballingskap gaan.

Hulle sal uit hulle land

weggevoer word.”

12Amasia het toe vir Amos gesê: “Siener, gee pad! Gaan liewer terug na die land Juda toe. Gaan verdien jou brood daar en profeteer daar!

13Moenie langer hier in Bet-El jou profetiese boodskappe bring nie. Dit is die koning se aanbiddingsplek, die heiligdom van sy koninkryk.”

14Maar Amos het Amasia geantwoord en gesê: “Ek is nie ’n professionele profeet nie en ek is ook nie ’n seun van ’n profeet nie. Ek is maar net ’n skaapboer, en ek kweek wildevyebome.

15“Maar die Here het my geroep waar ek skape opgepas het en gesê: ‘Gaan na my volk Israel en profeteer vir hulle.’

16“Maar luister nou na hierdie boodskap van die Here! Jy sê mos:

“‘Moenie teen Israel profeteer nie.

Hou op om te preek

teen die nageslag van Isak.’

17“Maar die Here sê:

‘In hierdie stad sal jou vrou

’n prostituut word

en jou seuns en dogters

sal in die oorlog sterf.

Hulle sal jou grondgebied

in stukke verdeel

en jy sal in ’n vreemde land sterf.

Sonder twyfel

sal hulle die mense van Israel

uit hulle land

in ballingskap wegvat.’”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help