JESAJA 27 - Nuwe Lewende Vertaling

1Daardie dag

sal die Here

met sy groot, skerp swaard

die Leviatan straf.

Die Leviatan,

kronkelende draak van die see,

sal Hy doodmaak.

2“Daardie dag sal julle sing

van die goeie wingerd.

3Ek, die Here, sal dit versorg

en dit gereeld natlei.

Dag en nag hou Ek wag daaroor

sodat dit nie beskadig word nie.

4My woede teen Israel sal bedaar.

As Ek dorings en dissels

daarin kry,

sal Ek dit verbrand.

5Hulle sal net gered word

as hulle aan My oorgee

en vra vir vrede

en beskerming.”

6Die tyd kom dat my volk

sal wortelskiet.

Israel sal bot en blom

en die hele aarde

met vrugte vul.

7Het die Here Israel gestraf

soos Hy haar vyande

gestraf het?

Nee, Hy het haar vyande verwoes.

8Maar vir Israel het Hy

net uit hulle land verban

met ’n storm

wat hulle na die ooste

weggewaai het.

9So sal Israel se sondes

versoen word.

Die gevolg sal wees dat

al die heidense altare

tot stof verpletter word,

en daar nie meer ’n Asjerapaal

of wierookaltaar sal bly staan nie.

10Israel se versterkte stede

sal stil en leeg wees,

die huise sal leeg staan,

soos in ’n woestyn.

Vee sal daar wei.

Hulle sal die takke kaalvreet.

11Die mense is

soos dooie takke

van ’n boom

wat afgebreek en gebruik word

vir vuur onder die kookpotte.

Israel is ’n onnosele klomp mense.

Daarom sal die Een

wat hulle gemaak het,

geen genade betoon nie.

Hulle Skepper

sal hulle nie jammer kry nie.

12Tog sal die tyd kom

wanneer die Here

die Israeliete een vir een

bymekaar sal maak

soos graan,

met die hand uitgesoek.

Hy sal julle

na sy dorsvloer bring,

van die Eufraat

in die ooste

tot by die stroom van Egipte

in die weste.

13Daardie dag

sal die groot trompet

geblaas word.

Baie wat besig was

om dood te gaan

in ballingskap in Assirië

en Egipte,

sal terugkom Jerusalem toe

om die Here te aanbid

op die heilige berg.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help