JOB 37 - Nuwe Lewende Vertaling

1“As ek hieraan dink,

bons en bewe my hart in my.

2Luister na God se stem

in die donderweer

as dit voortrol van Hom af.

3Dit rol deur die ganse hemel.

Sy weerlig slaan

in alle rigtings.

4Dan kom die gebrul

van die donderweer,

die geweldige stem

van sy majesteit.

Hy hou nie die weerlig terug

wanneer Hy praat nie.

5God se stem is glorieryk

in die donderweer.

Dis onmoontlik

om sy grootheid en mag

te bedink.

6Hy laat die sneeu

val op die aarde,

en beveel die reën

om neer te stort.

7Almal hou dan op om te werk

sodat hulle sy krag

kan aanskou.

8Die wilde diere

skuil tussen rotse

of bly in hulle lêplekke.

9Die storm kom uit sy blyplek.

Die wind bring groot koue.

10Die asem van God

stuur die ys.

Die wye waters vries kliphard.

11Hy laai die wolke met vog.

Hy verlig die wolke

met sy weerlig.

12Die wolke draai en draai

soos Hy hulle beveel.

Hulle doen wat Hy beveel

oor die hele bewoonde aarde.

13Hy laat dinge gebeur op aarde

as straf of as teken

van sy troue liefde.

14“Luister hierna, Job.

Staan stil en bedink

die wonderdade van God.

15Weet jy hoe God

die storm beheer

en sy weerlig laat flits

uit sy wolke?

16Verstaan jy hoe die wolke

in die lug bly hang?

Dis die wonderlike werk

van Hom wat alles weet.

17As jy vergaan van die hitte

in jou klere,

wanneer die suidewind gaan lê

en alles stil word,

18weerkaats Hy die hitte

uit die hemelruim

soos ’n reuse spieël.

Kan jy dit doen?

19“Jy dink mos jy weet so baie.

Leer ons

wat ons vir God moet sê.

Ons is te onkundig

om self te redeneer.

20Moet ons vir Hom sê dat ons

met Hom wil praat?

Kan ons praat

as ons so deurmekaar is?

21Ons kan nie in die son kyk

op ’n wolklose dag nie.

Dit skyn helder in die lug

wanneer al die wolke

weggewaai het.

22Uit die noorde kom God

in goudglans.

Rondom Hom is

ontsagwekkende majesteit.

23Ons kan ons nie voorstel

hoe magtig God is nie.

Tog is Hy so regverdig

en vol genade

dat Hy ons nie verdruk nie.

24Geen wonder dat alle mense

Hom vrees nie.

Mense met ware wysheid

het ontsag vir Hom.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help