SPREUKE 21 - Nuwe Lewende Vertaling

1Die Here stuur die koning

soos Hy wil.

Dit is soos ’n stroom water

wat Hy afkeer waarheen Hy wil.

2’n Mens dink dalk

alles wat hy doen, is reg.

Die Here besluit egter

oor die bedoeling daaragter.

3Die Here hou meer daarvan

dat iemand reg doen

en regverdig optree

as dat hy offers vir Hom bring.

4Hovaardige oë

en hoogmoedige harte

is ’n kenmerk van goddeloses,

dit is hulle sonde.

5Getroue werk lewer wins op.

Afskeepwerk lei tot gebrek.

6Skatte met leuens verwerf,

beteken niks

en bring net die dood.

7Die geweld van goddeloses

sleur hulle mee.

Hulle weier mos

om te doen wat reg is.

8’n Skuldige mens

loop kronkelpaaie.

’n Mens wat opreg is,

loop ’n reguit pad.

9Dit is beter

om op die hoek

van ’n platdak te bly,

as binne-in ’n huis saam met ’n vrou

wat oor alles stry.

10’n Slegte mens

wens ander net sleg toe.

Hy het niks oor

vir sy medemens nie.

11Wanneer jy iemand

wat ander belaglik maak,

laat boet vir sy dade,

leer onervare mense

wysheid daaruit.

Wanneer jy iemand onderrig

wat reeds wysheid het,

leer hy nog meer daaruit.

12Die regverdige God

sien wat gebeur

in die huis van goddelose mense.

Hy bring teëspoed

oor die goddelose mense.

13Iemand wat sy ore toedruk

vir die hulpkreet van ’n arme,

sal self ook verniet roep

as moeilikheid hom tref.

14’n Geskenk ongesiens gegee,

koel die man wat kwaad is af.

As ’n omkoopgeskenk

onopsigtelik gegee word,

laat dit driftige woede bedaar.

15Dit maak regverdige mense bly

wanneer reg opgetree word.

Dit maak dié wat kwaad doen, bang.

16As iemand wegdwaal

van die verstandige weg,

beland hy in die geselskap

van die dooies.

17Wie agter plesier aan loop,

word ’n arm mens.

Wie lief is vir wyn en weelde,

word nooit ryk nie.

18Soms word ’n slegte mens

geruil vir een wat reg doen,

en die onbetroubare mens

vir die eerlike persoon.

19Dit is beter

om iewers in die woestyn

te gaan bly

as saam met ’n stryerige vrou

wat oor alles neul.

20In ’n wyse mens se huis

is altyd kosbare besittings

en uitgesoekte olie.

’n Dwase mens gebruik alles op

wat hy in sy huis het.

21Iemand wat hom beywer

vir reg en liefde,

verkry ’n vol lewe,

geregtigheid en eer.

22’n Wyse man

kan ’n stad oorwin

al is dit vol dapper soldate.

Selfs die vesting

waarop hulle vertrou,

kan hy laat val.

23Wie ’n wag voor sy mond het

en stilbly,

hou homself uit die moeilikheid.

24Dis bekend dat ’n spotter

hovaardig en aanmatigend is.

Sy hovaardige optrede

ken geen perke nie.

25Die begeertes van ’n lui mens

lei na sy dood.

Hy weier om sy hande

uit sy moue te steek.

26Elke dag

begeer hy net meer en meer.

Die regverdige gee

sonder om iets terug te hou.

27God verafsku die offers

wat goddeloses bring,

veral as hulle dit doen

met allerlei bymotiewe.

28’n Vals getuie sal omkom.

’n Betroubare getuie

se getuienis staan vas.

29’n Slegte mens

maak asof hy dapper is.

’n Opregte mens

oorweeg elke tree wat hy gee.

30Geen menslike wysheid,

of insig, of besluit

kan voor die Here bly staan nie.

31Perde kan afgerig word

vir oorlog,

maar die oorwinning

kom net van die Here.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help