SPREUKE 13 - Nuwe Lewende Vertaling

1’n Wyse seun laat sy pa toe

om hom reg te help.

Een wat met alles spot,

steur hom nie eens

aan dreigemente nie.

2Wat ’n mens sê,

kan goeie dinge vir jou bring.

Hulle wat afvallig is,

soek net na geweld.

3Iemand wat op sy woorde let,

bewaar sy lewe.

’n Eindelose gepratery

kan alles ruïneer.

4Luiaards begeer baie dinge,

maar hulle kry dit nie.

Mense wat hard werk,

kry alles

wat hulle begeer.

5Regverdige mense haat leuens.

Goddelose mense

bring skade en skande

oor hulleself.

6Geregtigheid bewaar dié

wat onberispelik lewe.

Goddeloosheid

vernietig die sondaar.

7Sommige mense gee voor

hulle is ryk,

maar hulle het eintlik niks nie.

Ander maak of hulle arm is,

maar intussen besit hulle baie.

8Die ryk man het geld

om homself mee los te koop.

Die arm man

kan nooit

afgedreig word nie.

9Die lewe van die regverdiges

is vol vreugde.

Die lewenslig van goddeloses

word uitgedoof.

10Selfvoldaanheid

lei altyd tot rusies.

Hulle wat na ander luister,

het wysheid.

11Rykdom wat maklik kom,

verdwyn net so maklik.

Wie bietjie vir bietjie

bymekaarmaak,

het naderhand baie.

12Verwagtings

wat nie realiseer nie,

lei tot mismoedigheid.

’n Begeerte wat vervul word,

is soos ’n boom wat lewe gee.

13Hy wat hom nie steur

aan raad nie,

soek na moeilikheid.

Hy wat hom aan die reëls steur,

sal die goeie vrugte daarvan pluk.

14Die raad wat wyse mense gee,

is soos ’n fontein

met water wat lewe gee;

as jy dit volg,

ontsnap jy die lokvalle

van die dood.

15Mense het respek vir iemand

wat goeie insig het.

’n Onbetroubare mens

loop ’n pad van vernietiging.

16’n Verstandige mens

dink voor hy iets doen.

Dwase mense

verkondig hulle dwaasheid

aan die wêreld.

17’n Onbetroubare boodskapper

kry moeilikheid.

’n Gesant wat jy kan vertrou,

bring voorspoed.

18Hy wat hom

nie wil laat reghelp nie,

beland in armoede

en vernedering.

Hy wat ’n teregwysing

ter harte neem,

ontvang eer.

19Begeertes wat vervul word,

bring vreugde;

dwase mense het ’n afkeer daaraan

om kwaad te vermy.

20Hy wat met wyse mense meng,

verkry self ook wysheid.

Meng jou met dwase

en jy word self soos hulle.

21Teëspoed lê op die hakke

van die sondaars.

Die regverdiges

word met voorspoed beloon.

22’n Goeie mens

laat iets na vir kleinkinders.

’n Sondaar se besittings

beland by die regverdiges.

23Wanneer armes se grond

bewerk is,

gee dit genoeg kos vir hulle;

maar deur onreg

word die kos

van hulle af weggevat.

24Hy wat sy seun

nie dissipline leer nie,

het hom nie regtig lief nie.

As hy hom liefhet,

sal hy hom dissiplineer.

25Die regverdige mens

het oorgenoeg om te eet.

Goddelose mense

bly altyd honger.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help