PSALMS 69 - Nuwe Lewende Vertaling

Trek my op uit die modder

1Vir die koorleier: Op die wysie van “Lelies”. Van Dawid.

2Red my, o God!

Die vloedwaters

is reeds tot by my keel.

3Dieper en dieper

sink ek in modder,

met geen plek om te staan nie.

In diep waters het ek beland,

en die stroom oorweldig my.

4Ek is uitgeput

van roep om hulp.

My keel is hees en my oë dof,

terwyl ek wag

dat God my help.

5Hulle wat my haat

sonder oorsaak

is meer as die hare op my kop.

Talryk is hulle

wat my wil vernietig,

en dit sonder oorsaak.

My vyande is leuenaars

wat eis dat ek teruggee

dit wat ek nie gesteel het nie.

6O God, U weet

hoe dwaas ek is;

ek kan my skuld

nie vir U wegsteek nie.

7Moenie dat hulle

wat op U vertrou,

deur my beskaam word nie,

oppermagtige Here, die Almagtige.

Moenie dat hulle wat U dien

deur my verneder word nie,

o God van Israel.

8Om u ontwil

moet ek veragting verduur,

is ek tot skande gemaak.

9Vir my broers

het ek ’n onbekende geword,

’n vreemdeling

vir die seuns van my moeder.

10’n Ywer vir u huis

brand in my,

die beledigings teen U gemik,

tref ook vir my.

11Wanneer ek huil terwyl ek vas,

moet ek hulle beledigings

verduur.

12Wanneer ek rouklere aantrek,

skeer hulle met my die gek.

13Dié wat sit in die stadspoort

skinder van my,

en die dronkaards

maak liedjies oor my.

14Wat my betref,

ek bid tot U,

Here;

antwoord my op u bestemde tyd,

o God.

In die grootheid

van u troue liefde,

antwoord my

met u troue redding!

15Trek my op uit die modder

sodat ek

nie dieper wegsink nie!

Red my van my haters

en uit die diep waters.

16Moenie dat die watervloed

my oorweldig,

of die diep waters

my insluk,

of die graf bokant my

toegaan nie.

17Antwoord my, Here,

want u genade is goed;

verhoor my

in u groot barmhartigheid.

18Moenie u gesig

vir u dienaar wegdraai nie;

antwoord my gou,

want ek is in nood!

19Kom na my toe

en red my lewe.

Bevry my tog

van al my vyande.

20U ken die beledigings,

die vernedering

en die skande;

U het al my vyande gesien.

21Hulle beledigings

het my gebreek,

en ek is radeloos.

Ek het gesoek

vir meegevoel,

maar tevergeefs;

vir ’n bemoediger,

maar daar was niemand.

22In plaas van kos

gee hulle my gif;

hulle gee asyn

om my dors te les.

23Laat die feesmaal

op hulle tafel

’n strik word.

Laat hulle welvaart

hulle ondergang wees.

24Laat hulle oë blind word,

en hulle liggame al swakker.

25Stort u woede uit op hulle;

laat u brandende toorn

hulle verteer.

26Mag hulle wonings leeg staan

en hulle tente verlate.

27Hulle vervolg die een

wat U reeds getref het

en vertel van die pyn

van dié wat U deurboor het.

28Stapel hulle sonde op

sodat hulle nie sal deel

in u vryspraak nie.

29Wis uit hulle name

uit die Boek van die Lewe

sodat hulle nie as regverdiges

opgeteken sal word nie.

30Ek is ellendig en in pyn.

Laat u redding, o God,

my beveilig.

31Ek sal God se Naam

loof met sang,

Hom met danksegging

verheerlik.

32Die Here verkies dit bo bulle

en bo ’n volmaakte offerdier.

33Die verdruktes sal dit sien

en bly wees.

Laat almal wat God dien,

weer moed skep,

34want die Here

hoor dié in nood,

en vergeet nie sy mense

wat in aanhouding is nie.

35Laat hemel en aarde Hom prys,

die see en alles

wat daarin beweeg.

36Want God sal Sion red

en die stede van Juda herbou.

Sy volk sal daar woon

en die land besit.

37Die nageslag van sy dienaars

sal dit erf;

en hulle wat sy Naam liefhet,

sal daar woon.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help