1Jotam was 25 jaar oud toe hy koning geword het en het sestien jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Jerusa, dogter van Sadok.
2Hy het gedoen wat reg was vir die Here, net soos sy pa Ussia gedoen het. Maar hy het nie soos sy pa in die tempel van die Here oortree nie. Nogtans het die volk voortgegaan met hulle afstootlike gebruike.
3Jotam het die boonste poort na die Here se tempel herbou en het aansienlike bouwerk aan die muur by die Ofelheuwel gedoen.
4Hy het dorpe in die heuwels van Juda gebou en forte en torings in die bosse opgerig.
5Hy het oorlog teen die koning van die Ammoniete gemaak en hulle oorwin. Drie jaar lank het hy jaarliks belasting van hulle gekry. Dit was byna drie en ’n half ton silwer, 1 650 ton koring en 1 320 ton gars.
6Koning Jotam het baie magtig geword omdat hy in gehoorsaamheid aan die Here sy God gelewe het.
7Die ander gebeurtenisse tydens Jotam se regering, sy oorloë en ander aktiwiteite, is opgeteken in Die boek van die konings van Israel en Juda.
8Hy was 25 jaar oud toe hy koning geword het, en het sestien jaar in Jerusalem regeer.
9Toe hy sterf, is hy in die Dawidstad begrawe. Sy seun Agas het hom opgevolg.
Who We AreWhat We EelieveWhat We Do
2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.