JEREMIA 10 - Nuwe Lewende Vertaling

Afgodery lei tot vernietiging

1Luister na wat die Here

vir julle sê, Israel!

2Die Here sê:

“Moenie die praktyke

van die nasies navolg nie.

En moenie bang wees

vir hulle voorspellings

of vir tekens

aan die hemel nie,

al wek dit vrees by die nasies.

3Hulle gebruike is tevergeefs

en dwaas.

Hulle kap ’n boom af in ’n bos

en ’n ambagsman

maak daarvan ’n beeld.

4Hulle versier hierdie beeld

met goud en silwer.

Hulle spyker dit dan vas

sodat dit nie omval nie.

5Hulle afgode is so hulpeloos

soos ’n voëlverskrikker

in ’n groentetuin!

Hulle kan nie praat of loop nie,

maar moet gedra word.

Moenie bang wees

vir sulke gode nie.

Hulle kan niemand

kwaad aandoen nie.

Hulle kan ook niks goeds vir

enigiemand doen nie.”

6 Here, daar is niemand

soos U nie!

U is groot, u Naam dra gesag!

7Is daar iemand wat U

nie sal vrees nie,

Koning van al die volke?

U alleen verdien eer!

Daar is niemand op aarde

of in enige koninkryk

wat so verstandig soos U is nie.

8Mense wat afgode vereer,

is dom en dwaas.

Die goed wat hulle aanbid,

is dan van hout!

9Hulle bring die fynste silwer

uit Tarsis

en suiwer goud uit Ufas

en ’n handvaardige goudsmid

maak ’n beeld.

Vaardige kleremakers trek dan

vir hierdie beeld

klere van duur materiaal aan.

10Maar die Here

is die enigste ware God,

Hy is die God wat lewe.

Hy sal vir altyd Koning bly!

As Hy kwaad is,

bewe die aarde.

Die nasies is nie bestand

teen sy woede nie.

11Sê vir mense wat die afgode aanbid:

“Julle sogenaamde gode,

wat nie die hemel en

die aarde gemaak het nie,

sal van die aarde af

verdwyn.”

12God het die aarde

deur sy krag gemaak.

Hy het die wêreld

deur sy kennis laat ontstaan.

Dit is deur sy insig

dat die hemel uitgesprei lê.

13As Hy praat, kom

die wolkmassa in oproer.

Hy laat mistigheid opstyg

vanaf die eindes van die aarde.

Hy stuur ook weerlig

saam met die reën,

Hy laat die wind vry

uit sy stoorkamers.

14In vergelyking met Hom

is mense dom en

sonder kennis!

Hulle maak afgodsbeelde,

maar die beelde

bring hulle makers in

die verleentheid,

want hulle is vals,

sonder enige lewe.

15Hulle is niks werd nie.

Hulle is niks anders as leuens nie!

Die tyd van hulle vernietiging

sal kom.

16Maar die God van Israel

is nie soos hierdie afgode nie!

Hy is Skepper van alles

wat bestaan,

ook van Israel,

sy besondere erfenis.

Sy Naam is die Here,

die Almagtige!

Vernietiging kom!

17“Vat julle goed

om uit die land te gaan,

want die beleg gaan begin!”

18sê die Here.

“Ek gaan julle skielik

uit julle land smyt.

Ek gaan groot ellende

oor julle laat kom.

Dan sal julle my toorn ervaar.”

19My ellende is groot,

my wonde is seer.

Ek het gedink:

Dié lyding

sal ek maar moet verduur.

20My huis is weg

en daar is niemand oor

om my te help

om dit te herbou nie.

My kinders is weggevat,

en ek sal hulle nooit weer sien nie.

21Ons leiers is onnosel.

Hulle vra nie wat die Here

van hulle verwag nie.

Dit is waarom hulle misluk.

En dis ook hoekom ons mense

oral verstrooi is.

22Hoor julle, dit is die gedreun

van die vyand se leërs

wat uit die noorde op pad is.

Hulle sal die dorpe van Juda

verwoes.

Die dorpe sal ’n lêplek wees

vir jakkalse.

Jeremia se gebed

23Ek weet, Here,

mense se lewens

is nie hulle eie nie.

Niemand het beheer oor wat

met hulle gaan gebeur nie.

24 Here, help my reg,

maar werk sag met my.

As U dit in woede doen,

sal niks van my oorbly nie.

25Haal u woede liewer uit

op ons vyande.

Hulle steur hulle mos nie

aan U nie.

Hulle het ook nie

respek vir U nie.

Hulle het u volk Israel uitgeroei

en die land verwoes.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help