JOB 29 - Nuwe Lewende Vertaling

Job: Ek verlang na wat verby is

1Job het die gesprek voortgesit:

2“Ek verlang na die ou jare,

na die tyd toe God

vir my gesorg het,

3toe Hy die pad

voor my oë verlig het

sodat ek veilig

in die donkerte kon loop.

4In my vroegste jare

was God ’n vriend

in my huis.

5Die Almagtige was nog by my,

en my kinders was om my.

6In daardie dae het my koeie

oorvloedig melk gegee

en daar het strome olie

uit my olyfboorde gevloei.

7“Ek het na die stadspoort toe

gegaan

om tussen die geëerde leiers

te gaan sit.

8Jongmense het padgegee

as ek aankom.

Selfs bejaardes het opgestaan

uit respek vir my.

9Die leiers het stilgebly

en in stilte bly staan

met die hand op die mond.

10Die belangrikste amptenare

van die stad

het eenkant stil gestaan

en uit respek vir my

stilgebly.

11Almal wat van my gehoor het,

het my geprys.

Dié wat my gesien het,

het goed

van my gepraat.

12Want ek het die armes gehelp

in hulle nood,

en die weeskind

wat niemand gehad het

om hom te help nie.

13Ek het mense gehelp

wat alle hoop verloor het,

en hulle het my geseën.

Ek het ’n lied gebring

in die harte van weduwees.

14Wat ek ook al gedoen het,

was regverdig en opreg.

Regverdigheid was oor my

soos ’n kleed

en reg het my hoof bedek.

15Ek was soos oë vir die blindes

en voete vir dié

wat verlam is.

16Ek was ’n vader vir die armes

en het gesorg

dat die vreemdeling

regverdig verhoor word.

17Ek het die greep

van wettelose verdrukkers

verbreek

en hulle gevangenes

uit hulle mag vrygestel.

18“Ek het gedink:

‘Ek sal tog sekerlik sterf,

deur my familie omring,

na ’n lang en goeie lewe.

19Want ek is soos ’n boom

wat by waters staan,

en wat elke môre

met dou verfris word.

20Ek ontvang gedurig

eerbewyse,

en my krag word elke dag

vernuwe.’

21“Elkeen luister na my

en waardeer my raad.

Hulle wag in stilte vir my

om te praat.

22Wanneer ek gepraat het,

kon hulle niks byvoeg nie,

want hulle was tevrede

met my raad.

23Hulle het gewag vir my

om te praat,

soos ’n mens wag op reën.

My woorde was vir hulle

soos ’n fris lentereën.

24Wanneer hulle moedeloos

was,

het ek hulle met ’n glimlag

bemoedig.

Wanneer ek met goedkeuring

na hulle kyk,

was dit vir hulle kosbaar.

25Ek was soos hulle leier

wat hulle op die regte pad lei.

Ek was soos ’n koning

tussen sy manskappe,

en soos iemand wat die treurendes

vertroos.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help