PSALMS 78 - Nuwe Lewende Vertaling

Lesse uit die verlede

1’n Asafpsalm.

O my volk, luister na my lering.

Gee ag op wat ek sê,

2want ek wil julle onderrig

met ’n psalm.

Ek wil julle lesse leer

uit die verlede.

3Wat ons gehoor het

en wat ons weet,

wat ons voorgeslagte

ons vertel het,

4verswyg ons nie

vir ons kinders nie,

maar vertel

vir die volgende geslag

van die roemryke dade

van die Here,

van sy krag

en van sy wonderdade.

5Hy het voorskrifte

aan Jakob gegee,

en sy gebooie aan Israel.

Hy het ons voorouers beveel

om dit aan hulle kinders te leer

6sodat die volgende geslag

dit kan ken,

en selfs die ongebore kinders

weer húlle kinders kan leer.

7So sal hulle op God kan hoop,

die werke van God

nie vergeet nie,

maar sy bevele gehoorsaam

8en nie soos hulle voorouers wees nie.

Hulle is ’n ongehoorsame,

opstandige geslag,

wie se hart nie getrou was nie,

wie se gees ontrou was aan God.

9Die Efraimiete

was goed bewapen,

met boogskutters in hulle leër.

Maar op die dag van die geveg

het hulle omgedraai.

10God se verbond

het hulle nie gehou nie,

en hulle het geweier

om volgens sy voorskrifte

te lewe.

11Hulle het sy dade vergeet,

die wonders

wat Hy hulle gewys het,

12en die wonders

wat God gedoen het

voor die oë van hulle voorouers

in Egipte

en in die vlaktes van Soan.

13Die see het Hy oopgekloof

en hulle laat deurtrek.

Hy het die water

soos mure laat staan.

14Bedags het Hy hulle

met ’n wolk gelei,

en snags met ’n lig van vuur.

15In die woestyn

het Hy rotse gekloof,

hulle laat drink

asof uit diepwaters.

16Hy het waterstrome

uit die rots laat vloei,

die water soos riviere

laat stroom.

17Tog het hulle voortgegaan

om teen Hom te sondig,

en in die woestyn

in opstand gekom

teen Hom, die Allerhoogste.

18Met opset

het hulle God beproef,

en kos geëis na eie smaak.

19Hulle het God uitgedaag

en gesê:

“Kan God kos gee

in die woestyn?

20Toe Hy ’n rots geslaan het,

het daar water uitgekom

en strome het gevloei,

maar kan Hy ook brood verskaf

en vleis gee vir sy volk?”

21Toe die Here dit hoor,

was Hy baie kwaad.

’n Vuur het teen Jakob ontbrand;

sy toorn

het teen Israel ontvlam,

22want hulle het God

nie geglo nie,

en nie op sy verlossing

vertrou nie.

23Hy het die wolke daarbo beveel,

die hemele se deure oopgemaak,

24Hy het manna op hulle

laat reën om te eet,

uit die hemel brood vir hulle gegee.

25Kos van engele het hulle geëet,

kos in oorvloed

het God gegee.

26Hy het die oostewind

uit die hemel losgelaat,

en deur sy groot krag

die suidewind laat waai.

27Hy het vleis oor hulle

soos sand laat reën,

voëls soos die sand van die seestrand.

28Hy het dit

in hulle kamp laat val,

oral rondom hulle tente.

29Hulle het

meer as genoeg geëet.

Hy het gegee

wat hulle gevra het.

30Maar hulle honger

was nog nie gestil nie.

Met die kos nog in hulle mond,

31het die toorn van God

hulle getref.

Hy het die sterkste manne

neergevel,

en die room van Israel

neergeslaan.

32Tog het hulle aanhou sondig,

en geweier

om in sy wonders te glo.

33Daarom het Hy

hulle dae in nietigheid

tot ’n einde laat kom,

en hulle jare in onheil.

34Wanneer God sommige

van hulle laat omkom,

het hulle weer na sy wil gevra.

Dan het hulle berou getoon

en ywerig na God toe

teruggekom.

35Hulle het onthou

God is hulle rots,

en die Allerhoogste

hulle verlosser.

36Maar met die mond

het hulle Hom bedrieg;

en met die tong

vir Hom gelieg.

37Hulle hart

was ontrou aan Hom,

sy verbond

het hulle nie gehou nie.

38Tog was Hy genadig

en het hulle sondes vergewe

en nie hulle almal vernietig nie.

Dikwels het Hy sy toorn

teruggehou

en sy woede nie losgelaat nie.

39Want Hy het daaraan gedink

dat hulle sterflinge is,

’n asempie wat spoedig verdwyn

en nooit weer terugkom nie.

40Hoe dikwels het hulle

in die woestyn

teen Hom in opstand gekom,

en het hulle in die woesteny

sy hart bedroef!

41Weer en weer

het hulle God getart

en die Heilige van Israel

gepynig.

42Hulle het vergeet van sy mag,

van die dag toe Hy hulle

verlos het van die vyand,

43toe Hy sy tekens

in Egipte getoon het,

en sy wonders

in die veld by Soan.

44Hy het hulle riviere

in bloed verander

sodat niemand

uit hulle strome kon drink nie.

45Hy het muggies gestuur

om hulle te byt,

en paddas om hulle te verwoes.

46Hy het hulle oeste

aan sprinkane gegee;

hulle hele opbrengs is opgevreet.

47Hy het hulle wingerde

met hael verwoes

en hulle wildevyebome

met ryp verniel.

48Hy het die vee

aan hael oorgegee,

hulle skape aan weerligstrale.

49Hy het sy toorn teen hulle

losgelaat:

woede, gramskap en ellende

was vir U hulle

boodskappers van onheil.

50Dit was ’n weg vir sy toorn:

Hy het hulle lewens

nie gespaar nie,

maar hulle oorgegee aan die pes.

51Al die eersgeborenes in Egipte

het Hy getref,

al die oudste seuns

in die wonings van Gam.

52Maar sy eie volk

het Hy soos skape uitgelei,

en soos ’n kudde skape

hulle deur die woestyn gelei.

53Hy het hulle veilig gelei

sodat hulle nie bang was nie,

maar hulle vyande

is deur die see oorweldig.

54Hy het hulle gebring

na ’n gebied

wat Hy afgesonder het,

na die bergland

wat Hy deur sy mag

verower het.

55Hy het nasies voor hulle uit

verdryf,

die land as erfdeel

aan hulle gegee,

en die stamme van Israel

in hulle woonplekke gevestig.

56Hulle het egter die Allerhoogste

beproef,

teen Hom in opstand gekom,

en sy gebooie

nie gehoorsaam nie.

57Hulle was afvallig en ontrou

net soos hulle voorouers.

Hulle was net so onbetroubaar

soos ’n onbruikbare boog.

58Hulle het God

ook kwaad gemaak

met afgodsdiens op die hoogtes.

Met hulle afgodsbeelde

het hulle Hom uitgetart.

59Toe God dit hoor,

was Hy kwaad.

Hy het Israel heeltemal verwerp.

60Hy het die tabernakel in Silo

verlaat.

Dit was sy tentwoning

onder mense.

61Hy het sy magtige ark prysgegee,

sy glorie

in die hande

van vyande.

62Hy het sy volk uitgelewer

aan die swaard,

want vir sy besondere eiendom

was Hy kwaad.

63Hulle jong manne

is deur vuur verteer,

vir hulle jong meisies

is geen huwelikslied

gesing nie.

64Hulle priesters

het deur die swaard geval

en hulle weduwees

kon nie rou nie.

65Toe het die Here ontwaak

soos iemand uit sy slaap,

soos ’n sterk man ontwaak

uit die bedwelming van wyn.

66Hy het sy vyande teruggedryf

en vir altyd

aan skande oorgegee.

67Hy het Josef se nageslag

verwerp;

die stam van Efraim

het Hy nie gekies nie.

68Maar die stam van Juda

het Hy gekies,

vir Sionsberg, wat Hy liefhet.

69Hy het sy heiligdom

baie hoog gebou,

stewig vir altyd

soos die aarde self.

70Hy het sy dienskneg Dawid

gekies,

hom van die skaapkrale af

gaan haal.

71Van agter die lammerooie

het Hy hom weggevat

om sy volk Jakob te versorg,

sy eie volk, Israel.

72Hy het hulle met ’n opregte hart

versorg

en hulle met bekwame hande

gelei.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help