JESAJA 24 - Nuwe Lewende Vertaling

Oordeel oor die aarde

1Kyk, die Here is op die punt

om die aarde te verwoes

en dit ’n groot puinhoop te maak.

Kyk hoe Hy die mense

oor die hele aarde verstrooi.

2Priesters en gewone mense,

slaaf en eienaar,

slavin en meesteres,

koper en verkoper,

lener en uitlener,

bankier en skuldenaar –

niemand word gespaar nie.

3Die aarde sal leeggemaak

en heeltemal geplunder word.

Die Here het gepraat!

4Die aarde huil, dit droog uit.

Alles vergaan.

Die vernaamste mense

kwyn weg.

5Die aarde ly ter wille van die sonde

van sy mense,

want hulle het

God se opdragte verontagsaam,

sy voorskrifte verdraai,

sy ewige verbond verbreek.

6Daarom verteer ’n vloek

die aarde en al sy inwoners.

Daarom is die inwoners

van die aarde verbrand

en het baie min oorgebly.

7Die nuwe wyn droog op,

die wingerde verdroog,

vrolike mense sug.

8Die vrolike geluid

van tamboeryne

word stil.

Die lied van die vrolike mense

het opgehou.

Die harp het stil geword.

9Niemand sing meer

terwyl hulle wyn drink nie.

Sterk drank word galbitter

vir dié wat dit drink.

10Die leë stad lê verwoes.

Elke huis is toegesluit

om plunderaars uit te hou.

11Die mense roep in die strate

vir wyn.

Alle vreugde het verdwyn.

Vrolikheid is uit die land verban.

12Die stad is ’n puinhoop,

die stadspoorte

is stukkend geslaan.

13Deur die hele land

lyk dit dieselfde –

soos die olywe

wat agterbly op ’n boom

of die enkele druiwe

wat ná die oes oorbly.

14Almal wat oorbly, sal roep

en sing van vreugde.

In die weste

sal hulle die Here prys.

15In die ooste

moet hulle die Here eer.

Die Here se Naam,

die God van Israel,

moet in die kuslande

geprys word.

16Vanaf die eindes van die aarde

hoor ons hulle sing:

“Eer aan die Regverdige!”

Maar ek kwyn weg,

ja, ek kwyn weg!

Verraaiers laat my in die steek.

Die handelaars bedrieg my.

17Angs, vangnette en valstrikke

wag oral vir julle,

bewoners van die aarde.

18Wie van angs wegvlug,

sal in die vangnette beland.

Wie uit die vangnette klim,

sal op ’n valstrik trap.

Vernietiging val op julle

uit die hemel.

Die aarde skud onder julle.

19Die aarde breek aan stukke,

dit stort inmekaar.

Dit waggel en wankel

heen en weer.

20Die aarde slinger

soos ’n dronk mens.

Dit ruk soos ’n tent in ’n storm.

Dit val

en staan nie weer op nie,

want sy sonde is baie groot.

21Daardie dag sal die Here

die magte in die hemel straf,

en ook die heersers

van die nasies op aarde.

22Hulle sal saamgehok word

en in ’n tronk gehou word

tot hulle geoordeel

en uiteindelik gestraf word.

23Die maan sal dof word

en die son sy gesig wegsteek,

want die Here, die Almagtige,

is Koning op Sionsberg

in Jerusalem

en sy heerlikheid

skyn op die leiers

van sy volk.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help