2 TESSALONISENSE 2 - Nuwe Lewende Vertaling

Voor die Here se terugkeer moet daar nog sekere dinge gebeur

1Broers en susters, ons rig ’n versoek tot julle oor die dag wanneer ons Here Jesus Christus terugkom en ons by Hom bymekaargebring word:

2Moenie so gou verward raak of van stryk gebring word deur ’n profesie of ’n uitspraak of ’n brief wat sogenaamd van ons afkomstig sou wees en wat beweer dat die Dag van die Here alreeds gekom het nie.

3Laat niemand julle op enige manier mislei nie. Die Dag van die Here sal nie aanbreek voordat die opstand eers gekom en die wettelose mens, die mens wat vernietiging bring, na vore getree het nie.

4Hy sal hom verset teen alles wat god genoem word en hom verhef bo alles wat ’n voorwerp van aanbidding is. Sy doel is om in die tempel van God te gaan sit en voor te gee dat hy self God is.

5Onthou julle nie? Toe ek nog by julle was, het ek julle van hierdie dinge vertel.

6Dan weet julle ook wat hom nog daarvan terughou om op sy bestemde tyd na vore te tree.

7Die wetteloosheid werk inderdaad alreeds in die geheim, maar net totdat die een wat dit terughou, uit die weg geruim is –

8dán sal die wettelose op die toneel verskyn. Hy sal egter deur die asem uit die Here Jesus se mond doodgemaak en deur die glans van sy koms vernietig word.

9Satan sal dit bewerk dat die wettelose mens se koms gepaardgaan met groot magsvertoon en tekens en vals wonderwerke.

10Sy koms sal ook gepaardgaan met allerhande bose misleiding van dié wat verlore gaan. Hulle gaan verlore omdat hulle nie die waarheid liefgehad en tot hulle verlossing aanvaar het nie.

11Daarom stuur God ’n kragtige dwaling na hulle sodat hulle die leuen glo.

12Só sal almal veroordeel word wat nie die waarheid geglo het nie, maar die kwaad gekies het.

Julle moet vasstaan in die geloof

13Maar, broers en susters, geliefdes van die Here, dit pas ons om God altyd oor julle te dank. God het julle immers gekies om as eerstes verlos te word. Hy verlos julle deur die Gees wat julle aan Hom toewy en deur geloof in die waarheid.

14Deur die Goeie Nuus wat ons verkondig, het God julle hiertoe geroep sodat julle die heerlikheid van ons Here Jesus Christus kan verkry.

15Met dit in gedagte, broers en susters, staan vas! Hou by al die oorgelewerde geloofswaarhede wat julle geleer het, of dit nou deur ons woorde of briewe was.

16Verder, mag ons Here Jesus Christus en God ons Vader – Hý wat ons liefgehad het en wat ons deur sy genade ’n ewige troos en ’n goeie vooruitsig gegee het – mag Hy self

17julle harte vertroos en julle sterk maak in elke goeie daad en woord.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help