SPREUKE 2 - Nuwe Lewende Vertaling

Die wins van wysheid

1My seun,

luister mooi na wat ek vir jou sê.

Bewaar wat ek vir jou leer.

2Spits jou ore

vir die wysheid.

Span jou in

om dit te verstaan.

3Roep na insig.

Roep hardop vir begrip.

4Soek daarna

soos jy na silwer sou soek.

Spoor dit op

soos ’n versteekte skat.

5Dan sal jy weet wat dit beteken

om respek te hê vir die Here.

Jy sal leer om God te ken.

6Dit is tog die Here

wat wysheid gee.

Sy woorde gee kennis en insig.

7Hy laat hulle wat reg leef,

sukses behaal.

Hy is ’n skild vir hulle

wat hulle pad suiwer hou.

8Hy beskerm hulle

wat ’n reguit pad loop.

Hy bewaak die pad

van sy getroue dienaars.

9As jy aanvaar wat ek vir jou sê,

sal jy insig hê

in wat regverdig,

reg en billik is.

Jy sal op die goeie pad bly.

10Wysheid sal jou denke bepaal.

Jy sal lief wees vir kennis.

11Oordeelkundigheid

sal jou beskerm,

verstandigheid

sal na jou omsien.

12Dit sal jou weerhou

van ’n verkeerde lewenswyse.

Dit sal jou weghou van mense

wat besig is

met verkeerde dinge.

13Hulle is die mense wat afdwaal

van die regte paaie

om op donker paaie

te gaan loop.

14Hulle hou daarvan

om te doen wat sleg is.

Hulle juig

oor verkeerde dinge.

15Hulle loop kronkelpaaie,

slaan ’n verkeerde koers in.

16Die wysheid sal jou weghou

uit die kloue van ’n slegte vrou.

Dit sal jou spaar

van die verleidelike woorde van ’n

vreemde vrou.

17Sy het haar man gelos

en vergeet van haar belofte

aan haar God.

18Haar huis

is die kortpad na die dood.

Haar weg eindig

tussen die dooies.

19Mense wat agter haar aangaan,

kom nooit weer terug nie;

hulle kom nooit weer

op die paaie van die lewe nie.

20Loop jy liewer op die pad

van goeie mense.

Hou by die paaie

van die regverdiges.

21Die opregtes

sal in die land bly woon.

Hulle wat eerbaar is,

sal ongesteurd daar kan bly.

22Goddeloses sal verwyder word

uit die land.

Bedrieërs sal uitgeroei word.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help