JAKOBUS 5 - Nuwe Lewende Vertaling

Ryk onderdrukkers moet voor God rekenskap gee

1Kom nou, julle ryk mense, huil en treur oor al die swaar wat vir julle voorlê.

2Julle rykdom sal definitief vergaan en julle klere deur motte gevreet word.

3Julle goud en silwer sal beslis oproes. Hierdie einste roes sal soos vuur julle vleis wegvreet. Só sal die goud en silwer wat julle opgegaar het, op die oordeelsdag teen julle getuig.

4Kyk, die betaling van die arbeiders wat julle lande afgeoes het en wat julle van hulle teruggehou het, skree teen julle. En die krete van dié wat geoes het, het die ore van die Here die Almagtige bereik.

5Hier op aarde het julle luuks en in weelde geleef, en na hartelus elke behoefte bevredig. Julle harte is mooi vetgemaak, net reg vir die slagdag.

6Julle het goeie mense veroordeel en vermoor, en hulle kon hulle nie teen julle verdedig nie.

Volhard totdat die Here kom

7Wees dan geduldig, broers en susters, totdat die Here weer hier is. Dink net hoe ’n boer uitkyk vir die herfs- en lentereën. Hy wag geduldig vir die kosbare oes wat die land oplewer.

8Net so moet julle geduldig wees. En skep moed, want die koms van die Here is naby.

9Moenie oor mekaar kla nie, broers en susters, anders sal God oor julle oordeel. Kyk, die Groot Regter kom. Hy staan al voor die deur!

10Broers en susters, neem die profete wat namens die Here gepraat het as ’n voorbeeld van geduld in swaarkry.

11Ons gee met reg eer aan dié wat in swaarkry uithou.

Job is ’n voorbeeld van iemand wat geduldig volhard het. Uit wat uiteindelik met hom gebeur het, sien ons dat God se einddoel goed is. Die Here is mos vol innige meelewing en Hy gee onverdiend sy liefde.

Moenie ’n eed aflê nie

12My broers en susters, die belangrikste is dat julle nie moet sweer nie – nie by die hemel nie, nie by die aarde nie, nie by enigiets anders nie. Sê net “ja” of “nee”, en bedoel dit. Dan sal julle nie veroordeel word nie.

Wees verseker van die krag van gebed

13Is daar van julle wat swaarkry? Dan moet julle aanhou bid daaroor. En dié wat opgeruimd is, moenie ophou lofliedere sing nie.

14Is daar van julle wat siek is? Dan moet julle die ouderlinge van die gemeente laat kom. Nadat die ouderlinge die siekes met olyfolie in die Naam van die Here gesalf het, moet hulle vir hulle bid.

15En ’n gelowige gebed sal die siek mens gesond laat word; die Here sal hom laat opstaan. En watter sondes die sieke ook al gedoen het, dit sal hom vergewe word.

16Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word. Die gebed van iemand wie se saak met God reg is, het ’n kragtige werking.

17Elia was ’n mens net soos ons. Nogtans, toe hy ernstig gebid het dat dit nie moes reën nie, het daar drie jaar en ses maande lank nie ’n druppel op die aarde geval nie!

18Toe hy vir reën gebid het, het God reën gegee. Die plante het weer gegroei.

Bring die afgedwaaldes terug

19My broers en susters, as een van julle van die waarheid afdwaal en iemand sou hom laat terugdraai,

20weet dan dat hy wat ’n sondaar van sy dwaalweg laat terugdraai, hom uit die dood verlos en maak dat ’n klomp sondes bedek word.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help