HOOGLIED 3 - Nuwe Lewende Vertaling

Jong vrou:

1“Elke nag lê ek op my bed

en verlang na die man

wat ek liefhet.

Ek het na hom gaan soek,

maar ek kon hom nie kry nie.

2Ek sal weer opstaan

en in die stad

na hom gaan soek,

in die strate en op die pleine.

Ek het oral na hom gesoek,

maar kon hom nêrens kry nie.

3“Die wagte wat die stad oppas,

het op my afgekom.

Ek het vir hulle gevra:

‘Het julle die man gesien,

hy wat ek liefhet?’

4Ek was net by hulle verby,

toe kry ek die man

wat ek liefhet.

Ek het hom vasgegryp.

Ek het hom nie weer laat los

voor ek hom gebring het

na my ma se huis,

na die kamer

waar ek gebore is nie.

5“Belowe my iets,

vroue van Jerusalem!

Ek roep die ribbokke

en wilde takbokke as getuies

dat julle nie die liefde

sal aanblaas

voordat die tyd daarvoor ryp is nie.”

Jong vroue van Jerusalem:

6“Wie kom daar aangesweef

soos ’n wolkkolom

uit die woestyn?

Wie is dit

wat so lekker ruik na mirre,

wierook en lekkerruik-kruie?

7Dit is dan Salomo se drastoel

met 60 van Israel

se dapperste soldate

rondom hom!

8Elkeen

het ’n swaard op die heup,

is vaardig met die swaard

en opgelei vir die oorlog.

Hulle kan die koning verdedig

teen enige aanval in die nag.

9“Koning Salomo

het vir homself

’n drastoel laat maak

van hout uit die Libanon.

10Die drastoel se pote

is van silwer,

sy basis is van goud,

sy sitplek van gebreide, pers wol.

Die vroue van Jerusalem

het dit gemaak

uit liefde vir Salomo.”

Jong vrou:

11“Vroue van Sion,

gaan uit dat julle kan kyk

na die kroon

van koning Salomo.

Daarmee

het sy ma hom gekroon

op sy vreugdevolle troudag.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help