PSALMS 58 - Nuwe Lewende Vertaling

God se oordeel is regverdig

1Vir die koorleier: Op die wysie van “Moenie verwoes nie”. Van Dawid. ’n Gedig.

2Julle wat regeer,

is julle uitspraak

regtig regverdig?

Is julle beslissings oor mense billik?

3Nee! In julle gedagtes

beplan julle reeds boosheid,

met julle eie hande

versprei julle geweld in die land.

4Bose mense is so

vanaf geboorte;

van kleintyd af

praat hulle leuens.

5Hulle gif is soos die gif

van slange;

hulle is soos ’n adder

wat doof is

6en nie luister

na die slangbesweerder nie,

hoe bedrewe die besweerder

ook al is.

7God, slaan hulle tande stukkend

in hulle mond.

Here, breek die slagtande

van hierdie leeus.

8Laat hulle verdwyn

soos water wat wegsypel.

Laat hulle vertrap word

soos droë gras,

9soos ’n misgeboorte

wat wegsmelt,

soos ’n doodgeborene

wat nie die son sien nie.

10Vinniger

as wat ’n pot warm word

oor ’n doringvuur

sal God hulle wegvee,

sowel jonk as oud.

11Die getroue sal bly wees

by aanskoue

van die vergelding.

Die bloed van die goddeloses

sal hy afwas van sy voete.

12Dan sal almal sê:

“Daar is regtig beloning

vir dié wat toegewyd lewe;

daar is beslis ’n God

wat regverdig oordeel op aarde.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help