JESAJA 7 - Nuwe Lewende Vertaling

’n Boodskap vir Agas

1Gedurende die regering van koning Agas van Juda, seun van Jotam en kleinseun van Ussia, het koning Resin van Aram en koning Peka van Israel, seun van Remalja, Jerusalem aangeval. Die stad het die aanval oorleef.

2Die nuus het die koninklike hof bereik: “Aram het ’n bondgenootskap met Israel teen ons gesluit!” Toe het die koning en sy mense soos bome in ’n stormwind gebewe van vrees.

3Die Here het vir Jesaja gesê: “Gaan uit om koning Agas te ontmoet, jy en jou seun Sear-Jasub. Jy sal die koning kry waar hy op pad is na die veld waar klere gebleik word, by die punt van die kanaal uit die boonste dam.

4Sê vir hom hy moet versigtig wees en kalm bly en nie bang word nie. Hy moet nie moedeloos word oor die woede van hierdie twee uitgebrande stukke hout nie, vir koning Resin van Aram en Peka, seun van Remalja nie.

5“Ja, die konings van Aram en Israel is op pad om jou aan te val. Hulle sê:

6‘Kom ons val Juda binne en jaag sy mense die skrik op die lyf. Kom ons vat dit vir onsself en stel die seun van Tabeal aan as koning.’

7“Maar so sê die oppermagtige Here: Hierdie inval sal nooit gebeur nie,

8want Aram is nie sterker as sy hoofstad, Damaskus, nie. En Damaskus is nie sterker as sy koning, Resin, nie. Wat Israel betref, binne 65 jaar sal die volk heeltemal vernietig wees.

9Israel is nie sterker as sy hoofstad, Samaria, nie. En Samaria is nie sterker as sy koning, Peka seun van Remalja, nie. Julle glo My nie? As julle My nie wil vertrou nie, sal julle nie staande bly nie.”

Die Immanuelteken

10Nie lank hierna nie het die Here my met hierdie boodskap na koning Agas gestuur:

11“Vra vir ’n teken van die Here jou God, enigiets wat jy wil, en maak dit so moeilik as wat jy kan.”

12Maar die koning het geweier. “Nee,” het hy geantwoord, “ek sal nie die Here beproef nie.”

13Toe het Jesaja gesê: “Luister baie mooi, julle koninklike familie van Dawid! Julle is nie tevrede om my geduld te beproef nie. Nou beproef julle God se geduld ook!

14Nou goed dan, die Here sal dan self ’n teken kies. Die jong vrou sal verwagtend raak. Sy sal geboorte skenk aan ’n seun en hom Immanuel noem.

15Teen die tyd dat die seun oud genoeg is om dikmelk en heuning te eet, sal hy genoeg weet om te kies wat reg is en te verwerp wat verkeerd is.

16Maar voordat hy kan kies tussen reg en verkeerd, sal die twee konings vir wie jy so bang is, albei dood wees.

17“Die Here sal binnekort verskriklike tye oor jou, jou volk en jou familie bring, erger as in al die jare vandat Salomo se koninkryk in Israel en Juda geskeur het: Hy bring die magtige koning van Assirië met sy groot leër!”

18Daardie dag sal die Here fluit vir die vlieë wat by die verste riviere van Egipte is, en vir bye in Assirië.

19Hulle kom in groot hordes en gaan die hele land tref. Hulle sal in die diep valleie, gate in die rotse, al die doringbosse en weivelde gaan sit.

20Daardie dag sal die Here hierdie skeermes gebruik, die Assiriërs wat julle gehuur het om julle te beskerm. En Hy sal alles afskeer: die hare op julle kop, julle beenhare en julle baarde.

21Hierna sal ’n boer gelukkig wees as hy ’n jong koei en twee skape oorhet.

22Die min mense in die land sal van dikmelk en wilde heuning leef omdat dit al is wat die land produseer.

23Daardie dag sal duisend wingerdstokke, wat omtrent 11,4 kilogram silwer werd is, vol dorings en dissels staan.

24Die hele land sal vol dorings en dissels staan. ’n Mens sal ’n pyl en boog moet saamvat as jy soontoe wil gaan.

25Niemand sal na die vrugbare heuwels gaan waar die landerye was nie omdat dit met dorings en dissels oortrek sal wees. Beeste en skape sal daar wei.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help