JESAJA 28 - Nuwe Lewende Vertaling

’n Boodskap oor Samaria

1Verwoesting wag

vir die stad Samaria,

die trots en vreugde van Israel

se dronklappe!

Die stad is in ’n ryk vallei,

maar sy prag

sal skielik verdwyn.

Verwoesting wag verseker

vir daardie stad,

die trots van die mense

wat neerslaan van die wyn.

2Want die Here het iemand

wat sterk en magtig is.

Hy is soos ’n magtige haelstorm

en swaar reën

wat oor hulle sal losbars

en hulle teen die grond neergooi.

3Die trotse stad van Samaria,

die trots en vreugde

van Israel se dronklappe,

sal vertrap word

onder die voete

van die vyande.

4Die stad is in ’n vrugbare vallei,

maar sy prag

sal skielik verdwyn.

Dit sal wees soos ’n ryp vy

voor die oes.

As iemand dit sien,

sal hy dit vat en insluk.

5Dan sal die Here

die Almagtige

self Israel se kroon en eer wees.

Hy sal die trots en vreugde wees

van die oorblyfsel

van sy volk.

6Hy sal aan hulle regters

’n begeerte gee

om reg te spreek.

Hy sal groot moed gee

vir hulle soldate

wat die stadspoorte beskerm.

7Maar nou is dit dronklappe

wat Israel regeer!

Die priesters en die profete

slinger en waggel

van al die wyn en sterk drank.

Hulle maak dom besluite

as hulle verantwoordelik

moet optree.

8Hulle tafels is vol braaksel.

Niks en niemand

is skoon nie.

9Hulle sê:

“Vir wie probeer hy leer?

Aan wie verduidelik hy

sy boodskap?

Is dit babatjies

wat pas gespeen is,

wat so pas van hulle ma’s

se borste weggevat is?

10Want dit is:

Doen dit en doen dat,

doen dit en doen dat,

reël op reël, reël op reël,

hier ’n bietjie en daar ’n bietjie!”

11Omdat hulle weier

om te luister,

sal God met hulle praat

deur die onbekende taal

van vreemde verdrukkers!

12Hy het vir hulle gesê:

“Hier kan julle rus!

Hier kan julle

die moeë mense laat rus.

Hier is alles rustig.”

Maar hulle het geweier

om te luister.

13Daarom gaan die Here

weer met hulle praat.

Hy gaan sê:

Maak sus en maak so,

reël op reël, reël op reël,

hier ’n bietjie

en daar ’n bietjie!

Hieroor sal hulle agteroorval,

beseer en gevang word,

en as ballinge weggevoer word.

14Daarom,

luister na die Here se boodskap,

julle ligsinniges

wat oor Jerusalem regeer!

15Julle spog:

“Ons het ’n ooreenkoms gemaak

om die dood te ontkom.

Met die graf

het ons ooreengekom.

As die Assiriërs kom,

sal hulle ons nie tref nie.

Want ons het leuens

ons veilige vesting gemaak,

valsheid en bedrog

ons skuilplek.”

16Daarom sê die oppermagtige

Here:

“Kyk, Ek gaan in Jerusalem

’n klip neersit,

’n granietsteen,

’n hoeksteen

vir ’n vaste fondament.

Elkeen wat op My vertrou,

hoef nie weg te hardloop nie.

17Ek sal geregtigheid

die maatlyn maak

en reg

die skietlood as norm.

Die hael sal julle skuilplek

van leuens laat omval,

en die vloedwaters

sal dit wegsleur.

18Ek kanselleer die ooreenkoms

wat julle met die dood

gemaak het.

Julle ooreenkoms met die graf

hef Ek op.

As die verskriklike vyand

aangestorm kom,

sal julle in die grond

vertrap word.

19Keer op keer

sal daardie vloed kom,

môre na môre, dag en nag.”

Hierdie boodskap sal angs bring

vir julle.

20Julle sal nêrens kan wegkruip nie.

Die bed wat julle gemaak het,

is te kort

om reguit daarop te lê.

Die kombers is te smal

om julle mee toe te maak.

21Die Here sal skielik kom,

met woede,

soos Hy teen die Filistyne

by Perasimberg gekom het,

en teen die Amoriete by Gibeon.

Hy sal kom om ’n vreemde,

’n ongewone ding te doen:

Hy kom om sy eie volk

te vernietig!

22Hou op spot sodat julle straf

nie nog groter is nie!

Die oppermagtige Here,

die Almagtige,

het dit duidelik gemaak

dat Hy julle land gaan

verwoes.

23Luister na my.

Luister terwyl ek by julle pleit!

24Hou ’n boer aan met ploeg

sonder om ooit te saai?

Hou hy aan om grond te bewerk

sonder om ooit te plant?

25As hy grond gelyk gemaak het,

saai hy mos

swartkomyn en komyn,

koring, gars en spelt,

elkeen in sy eie akker.

26Boere weet wat om te doen,

God het hulle

geleer hoe om dit te doen.

27Hulle oes ook nie alles

op dieselfde manier nie.

Hulle dors nie swartkomyn

met ’n slee,

of komyn met wawiele nie.

Swartkomyn en komyn

word met ’n stok uitgeslaan.

28Graan word gemaal vir brood.

Daarom moet ’n mens

nie aanhou

om dit te slaan nie.

Hulle dors dit met wawiele,

maar verpoeier dit nie.

29Die Here, die Almagtige,

is ’n goeie onderwyser.

Hy gee die boer groot wysheid.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help