PREDIKER 1 - Nuwe Lewende Vertaling

1Wat hier volg, is die woorde van die Prediker. Hy was ’n seun van Dawid en het in Jerusalem as koning regeer.

Alles is sinloos

2“Alles is sinloos,”

sê die Prediker.

“Alles is sinloos,

absoluut sinloos!”

3Watter voordeel kry mense

vir al hulle harde werk,

hulle inspanning onder die son?

4Die een geslag

volg op die ander,

maar die aarde verander nooit nie.

5Die son kom op en

gaan weer onder;

hy haas hom terug

na waar hy opkom.

6Die wind waai na die suide

en draai na die noorde.

Dit dwarrel om en om,

en gaan weer

in sy sirkelgang.

7Die riviere vloei in die see,

maar die see word nooit vol nie.

Die water gaan weer terug

na die riviere toe,

en keer terug na die see.

8Al die dinge

maak ’n mens moeg,

’n mens kan dit

nie eers opnoem nie,

die oog word nie versadig

van wat hy sien nie,

die oor word nie vol

van wat hy hoor nie.

9Niks wat gebeur, is nuut nie.

Wat gedoen is,

sal weer gedoen word.

Daar is niks nuuts

onder die son nie.

10Na wat kan jy wys en sê:

“Dit is nuut”?

Nee, dit was lankal daar,

lank voor ons tyd!

11Dinge van voorheen

word nie onthou nie.

In die toekoms

sal die geslagte wat kom nie onthou

wat nou gebeur nie.

Wysheid is nutteloos

12Ek, die Prediker,

was koning oor Israel

in Jerusalem.

13Ek het my daarop toegespits

om alles wat onder die son

gedoen word, te verstaan

en met wysheid te deurdink.

Ek het gevind

dis ’n moeilike taak

wat God vir die mens gegee het

om hom daarmee besig te hou.

14Ek het al die dade gesien

wat onder die son

gedoen word,

en kyk, alles was sinloos,

’n gejaag na wind!

15Wat krom is,

kan nie reguit gemaak word nie.

Wat weg is,

kan nie getel word nie.

16Ek het vir myself gesê:

“Ek is verstandiger

as al die konings

wat voor my

oor Jerusalem regeer het.

Ek het meer insig en kennis

as enigeen van hulle verkry.”

17Ek het my daarop toegespits

om kennis en insig

van domheid en dwaasheid

te onderskei.

Maar ek het besef: Ook dít

is net ’n gejaag na wind.

18Want hoe groter jou insig is,

hoe meer verdriet het jy.

Soos kennis vermeerder,

so word jou smart meer.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help