NUMERI 24 - Nuwe Lewende Vertaling

1Bileam het toe begin insien dat die Here eerder vir Israel wil seën. Hy het nie aangegaan om soos gewoonlik na voorspellings te soek nie. Hy het na die woestyn toe gedraai.

2Daar het hy gesien hoe Israel volgens hulle stamme staan. Die Gees van God het toe oor hom gekom.

3Hy het die volgende boodskap gebring:

“So sê Bileam,

die seun van Beor.

Sy oë het oopgegaan.

4Hy het God se woorde gehoor.

Hy het ’n gesig

van die Allerhoogste gesien.

Hy val neer op die grond

met sy oë wawyd oop.

5Hoe pragtig is jou tente, Jakob!

Hoe mooi is die plek

waar jy bly, Israel!

6Dit is uitgestrek soos ’n vallei,

soos ’n tuin langs ’n stroom,

soos aalwyne

wat die Here geplant het,

soos sederbome langs die water.

7Water vloei uit sy houers,

sy nageslag

is by oorvloedige waters.

Sy koning is beroemder as Agag.

Sy koninkryk gaan

van krag tot krag.

8God het hom uit Egipte bevry

met die krag van ’n bul.

Nasies wat vyandig is teen hom,

dié verslind hy.

Hy vergruis hulle bene

en skiet sy pyle op hulle af.

9Hy buk en gaan lê

soos ’n leeumannetjie.

Hy is soos ’n leeu;

niemand kan hom

teenstaan nie.

Elkeen wat jou seën, is geseënd.

Elkeen wat jou vervloek,

is vervloek.”

10Balak het toe woedend geword vir Bileam. Hy het sy hande teen mekaar geklap en vir hom geskreeu: “Ek het jou laat kom om my vyande te vervloek. Dit is nou al drie maal dat jy hulle geseën het.

11Maak dat jy wegkom na jou huis toe! Ek het wel gesê ek sal jou beloon, maar die Here het nou jou beloning weggevat!”

12Bileam het vir Balak gesê: “Onthou jy nie dat ek vir die boodskappers wat jy gestuur het, gesê het:

13‘Al gee Balak vir my sy paleis vol silwer en goud, ek kan nie enigiets anders sê as wat die Here vir my gee nie, of dit nou goed of kwaad is.’”

Bileam se vierde uitspraak

14“Ek gaan nou terug na my mense toe. Maar laat ek jou ’n bietjie inlig oor wat hierdie volk in die toekoms met jou volk gaan doen.”

15Hy het toe die volgende boodskap gebring:

“So sê Bileam,

die seun van Beor,

’n man wie se oë

oopgegaan het.

16Hy hoor die woorde van God

en weet

wat die Allerhoogste besluit het.

Hy sien die visioene

wat die Almagtige vir hom gee.

Hy val op die grond neer

met sy oë wawyd oop.

17Ek sien iets,

maar dis nie onmiddellik nie.

Ek sien hom,

maar hy is nog nie naby nie.

’n Ster kom uit Jakob.

’n Septer kom uit Israel.

Hy verpletter Moab se voorkop.

Hy verwoes sy opstandige

nageslag.

18Edom sal oorwin word.

Seïr sal oorlogsbuit word

vir sy vyande.

Israel sal met mag oorwin.

19Uit Jakob

sal ’n heerser opstaan.

Hy sal hulle

wat oorbly in die stad, vernietig.”

Bileam se ander uitsprake

20Bileam het na Amalek gekyk en hierdie boodskap oor hom gebring:

“Amalek was die grootste

onder die volke.

Sy einde is

om vernietig te word.”

21Hy het na die Keniete gekyk en die volgende boodskap gebring:

“Jou blyplek is veilig.

Jou skuiling

is tussen die rotse.

22Kain sal egter verwoes word

wanneer die Assiriërs kom

om jou gevange te neem.”

23Bileam het nog een boodskap gehad:

“Wie sal kan bly leef

wanneer God

dit alles laat gebeur?

24Skepe sal van Siprus af kom,

en sal Assirië en Eber

onderwerp.

Teen die einde

sal hulle self verwoes word.”

25Bileam het toe huis toe gegaan. Balak het sy eie koers ingeslaan.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help