JESAJA 55 - Nuwe Lewende Vertaling

Uitnodiging

1“Almal wat dors is,

kom na die water toe.

Selfs al het jy geen geld nie,

kom, koop en eet.

Kom, koop wyn en melk

sonder prys en geld.

2Hoekom spandeer julle julle geld

op dit wat nie brood is nie?

Hoekom werk julle vir iets

wat nie kan versadig nie?

Luister mooi na My,

dan sal julle eet wat goed is,

en versadig kan word

met die beste wat te kry is!

3Luister tog, kom na My toe.

Luister na My dat julle kan lewe.

Ek is gereed

om ’n ewige verbond te sluit.

Ek wil my troue liefde

aan julle betoon

soos Ek aan Dawid belowe het.

4Ek het hom ’n getuie gemaak

vir al die volke,

’n regeerder en bevelvoerder

van volke.

5Jy sal oor nasies regeer

wat jy nie geken het nie.

Nasies wat jou nie ken nie

sal na jou toe hardloop

ter wille van die Here jou God,

die Heilige van Israel,

wat jou vereer.”

6Vra na die Here

terwyl jy Hom nog kan vind.

Roep Hom nou aan

terwyl Hy nog naby is.

7Die goddelose mens

moet sy verkeerde dinge los,

en die bose mens

sy slegte gedagtes.

Hy moet terugdraai na die Here

en Hy sal hom genadig wees.

Ja, draai na God,

want Hy sal altyd vergewe!

8“My gedagtes is anders

as julle s’n,

en julle paaie is nie my paaie nie,”

sê die Here.

9“Want soos die hemel

hoër is as die aarde,

so is wat Ek doen,

hoër as wat julle doen,

en my gedagtes

hoër as julle gedagtes.

10Reën en sneeu

kom uit die hemel,

en dit gaan nie daarheen

terug nie.

Dit maak die aarde nat

om die plante te laat bot

en vrugte te laat dra

sodat daar saad is om te saai

en brood om te eet.

11Net so is dit met die woord

wat uit my mond kom:

Dit sal nie leeg

na My toe terugkeer nie,

maar dit sal doen wat Ek verwag

en die doel bereik

waarvoor Ek dit gestuur het.

12Julle sal in blydskap wegtrek

en in vrede gelei word.

Die berge en heuwels sal juig

en die bome in die veld

sal hulle hande klap!

13Waar daar eers net dorings was,

sal daar nou sipresse groei.

En in die plek van ’n dissel

sal daar nou mirtebome groei.

Dit sal wees tot eer van die Here,

’n blywende teken

van sy mag en liefde.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help