JOB 10 - Nuwe Lewende Vertaling

Job pleit by God

1“Ek verafsku my lewe!

Los my dat ek kan kla

sodat ek die bitterheid

wat in my is,

in woorde kan sê.

2Ek wil vir God sê:

‘Moet my nie

sommer veroordeel nie.

Sê vir my wat is die klag

wat U teen my bring?

3Wat baat U daarby

om my te laat swaarkry?

Waarom verwerp U my,

die werk van u eie hande,

terwyl U aan die kwaaddoener

voorspoed gee?

4Het U die oë van ’n mens?

Kyk U na dinge

soos mense daarna kyk?

5Is u leeftyd

soos dié van ’n mens?

Is u lewe só kort soos ’n mens s’n

6dat U haastig is

om te soek na my skuld

en my sonde uit te wys

7alhoewel U weet

dat ek nie skuldig is nie,

en niemand my kan red

uit u hand nie?

8U het my met u hande gevorm.

U het my gemaak,

en tog vernietig U my

geheel en al!

9Onthou dat U my

van klei gemaak het.

Wil U my nou al

terugbring tot stof?

10U het my ontvangenis begelei

en my in die baarmoeder

gevorm.

11U het my geklee

met vleis en vel

en my bene met senings

aanmekaargeheg.

12U het aan my lewe gegee

en aan my

u onfeilbare liefde betoon.

My lewe was bewaar

deur u sorg.

13Maar u werklike motief

– ek weet dit –

14was om my dop te hou

of ek sondig.

En as ek sondig,

sou U my nie vergewe nie.

15As ek skuldig is, is dit klaar met my.

En selfs as ek onskuldig is,

is ek gevul met skaamte

en ellende

sodat ek my kop laat hang.

16As ek my kop optel,

sou U my jag soos ’n leeu

met ’n vertoon

van u ontsaglike mag

teen my.

17Weer en weer getuig U

teen my.

U stort ’n groeiende vloed

van toorn oor my,

en bring vars leërmagte teen my.

18Waarom het U my dan

uit my moeder se skoot

gebring?

Waarom het U my nie

by geboorte laat sterf

sodat niemand my sou sien nie?

19Dan was ek gespaar

van hierdie ellendige

bestaan.

Dan was ek reguit

van die baarmoeder

na die graf gedra.

20Ek het net ’n klein tydjie oor.

So, laat my tog alleen

sodat ek ’n oomblik se vreugde

kan hê

21voordat ek moet vertrek

na die donker land

wat diep en somber is

om nooit terug te kom nie.

22Daar is dit altyd so donker

soos middernag.

Somberheid en chaos heers,

en lig het pikdonker geword.’”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help