MARKUS 11 - Nuwe Lewende Vertaling

Jesus gaan Jerusalem triomfantlik binne

1Toe hulle naby Jerusalem kom, het Jesus en sy dissipels eers die dorpies Betfage en Betanië, wat teen die Olyfberg lê, bereik. Daarop het Hy twee van sy dissipels vooruit gestuur

2met die opdrag: “Gaan na die dorpie hier reg voor julle en nes julle daar ingaan, sal julle ’n jong donkie wat nog nooit gery is nie, vasgemaak sien staan. Maak dit los en bring dit hierheen.

3As iemand vir julle sê: ‘Wat maak julle daar?’ sê dan: ‘Die Here het die donkie nodig; Hy sal hom nou-nou terugstuur.’”

4Die twee dissipels het toe vertrek en hulle het ’n jong donkie gekry wat buite in die straat by die ingang van ’n huis vasgemaak staan. Terwyl hulle hom losmaak,

5het van die omstanders beswaar gemaak en vir hulle gesê: “Wat dink julle doen julle? Hoe kan julle die donkie sommerso losmaak?”

6Hulle het toe geantwoord soos Jesus hulle beveel het, en die mense het hulle toe laat begaan.

7Daarna bring hulle die jong donkie na Jesus toe. Hulle sit toe hulle bo-klere op die donkie en Jesus gaan sit op hom.

8Baie van die skare het toe hulle bo-klere op die pad voor Jesus oopgegooi, ander weer groen takkies wat hulle in die veld gekap het.

9Met Jesus in die middel van die optog het hulle uitgeroep:

“Prys God!

10Geseënd is die Een wat kom

in die Here se Naam!

Geseënd is die

koningsheerskappy

van ons voorvader Dawid

wat aan die kom is!

Prys God in die hoogste hemel!”

11So het Jesus toe in Jerusalem aangekom en na die tempel toe gegaan waar Hy alles rondom bekyk het. Omdat dit alreeds laat was, het Hy toe saam met die twaalf dissipels uitgegaan na Betanië toe.

Jesus vervloek ’n vyeboom wat nie vrugte het nie

12Toe hulle die volgende dag uit Betanië vertrek, het Jesus honger geword.

13Toe Hy in die verte ’n vyeboom met blare sien, het Hy daarheen gegaan om te kyk of Hy enige vye daaraan sou kry. Maar toe Hy by die boom kom, kry Hy niks meer as blare nie omdat dit nog te vroeg in die seisoen vir vye was.

14Hy sê toe vir die boom: “Mag niemand ooit weer ’n vrug van jou eet nie!” Sy dissipels het gehoor wat Hy sê.

Jesus maak die tempel skoon

15Hulle kom toe in Jerusalem. Jesus het die tempelterrein binnegegaan en die handelaars en hulle kliënte begin uitjaag. Hy het die tafels van die geldwisselaars en die stalletjies van die duiweverkopers omgegooi

16en gekeer dat iemand ’n voorwerp oor die tempelarea ronddra.

17Hy onderrig hulle toe: “Staan daar nie in die Skrif geskryf nie

‘My tempel sal ’n huis van gebed wees

vir al die nasies’?

“Maar julle het daarvan ’n rowersnes gemaak!”

18Die priesterhoofde en skrifkenners het hiervan gehoor en allerhande planne begin oorweeg om Jesus uit die weg te ruim. Hulle was immers bang vir Hom en moes daarmee rekening hou dat die massa gaande was oor sy lering.

19Teen die aand het Jesus en sy dissipels die stad verlaat.

20Toe hulle die volgende oggend by die vyeboom verbygaan wat Jesus vervloek het, sien hulle dat dit tot in sy wortels verskrompel het.

21Petrus het onthou wat die vorige dag gebeur het, en sê vir Hom: “Leermeester, die vyeboom wat U vervloek het, het werklikwaar verdor!”

22Jesus het hulle toe geantwoord: “Julle moet geloof hê in God.

23Dit verseker Ek julle, julle kan vir hierdie berg sê: ‘Mag God jou oplig en in die see gooi,’ en dit sal so gebeur. Al wat nodig is, is dat julle regtig sal glo en nie in julle harte twyfel nie.

24Daarom verklaar Ek vir julle, alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou.

25Maar wanneer julle besig is om te bid, vergewe eers enigeen teen wie julle ’n grief koester. Dan sal julle hemelse Vader ook julle oortredings vergewe.”Jesus se gesag word uitgedaag

27Teen hierdie tyd het hulle weer in Jerusalem aangekom. Terwyl Jesus op die tempelterrein rondbeweeg, kom die priesterhoofde, die skrifkenners en die familiehoofde na Hom toe

28met die vraag: “Watter soort gesag het jy om mense uit die tempel te jaag? Of wie het aan jou die volmag gegee om hierdie dinge te doen?”

29Jesus het hulle geantwoord: “Ek sal vir julle sê deur watter gesag Ek hierdie dinge doen. Maar dan moet julle eers een vraag beantwoord:

30Kom Johannes se doop van God af, of was dit maar bloot ’n menslike saak?”

31Hulle het toe onder mekaar beraadslaag: “As ons sê dat dit van God af kom, sal Hy sê: ‘Hoekom het julle hom dan nie geglo nie?’

32Maar as ons sê dit was bloot ’n menslike saak, is ons ook in die moeilikheid.” Hulle was bang vir die skare, want almal het geglo dat Johannes ’n profeet was.

33Gevolglik het hulle Jesus toe geantwoord: “Ons weet nie.”

Jesus antwoord toe op sy beurt: “Dan gaan Ek julle ook nie sê waar Ek die gesag vandaan kry om so op te tree nie.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help