PSALMS 90 - Nuwe Lewende Vertaling

BOEK VIER (PSALM 90–106)Die ewige Here

en sterflike mens

1’n Gebed van Moses, man van God.

Here, U was ons toevlug

van geslag tot geslag.

2Voordat die berge gebore is

en U die wêreld

voortgebring het,

van ewigheid tot ewigheid,

is U God.

3U laat mense

weer terugkeer tot stof,

en sê:

“Keer terug, mensekinders!”

4Vir U is duisend jaar

soos gister wat verbygaan,

soos ’n nagwaak

wat gou verby is!

5U vee mense weg

soos drome wat verdwyn,

soos gras

wat in die oggend opkom:

6Soggens skiet dit op en groei,

in die aand verdroog dit

en verwelk.

7Inderdaad, ons kwyn weg

onder u toorn;

ons is oorweldig

deur u woede.

8Ons sondes is oop en bloot

voor U,

ons geheime sondes

word bekend

in die lig van u teenwoordigheid.

9Al ons dae gaan verby

onder u toorn,

ons eindig ons lewe soos ’n sug.

10Die getal van ons jare

kan 70 wees,

of as ons sterk is, 80.

Maar selfs die beste daarvan

is vol swaarkry en verdriet.

Die lewe is gou verby,

en ons bestaan nie meer nie.

11Wie ken die krag van u toorn?

Wie ken die vrees

van u woede?

12Leer ons ons dae só gebruik

dat ons wysheid kan bekom.

13Kom terug, Here!

Hoe lank gaan U nog uitstel?

Ontferm U tog oor u dienaars!

14Vul ons met u genade

in die oggend,

dan sing ons van vreugde

al ons dae.

15Gee ons vreugde

na al ons lyding,

na al die jare van onheil

wat ons beleef het.

16Laat al u dienaars

u werke sien,

en hulle kinders u heerlikheid.

17En mag die Here ons God

sy goedheid aan ons bewys,

en die werk van ons hande

bevestig.

Ja, bevestig die werk

van ons hande!

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help