JESAJA 22 - Nuwe Lewende Vertaling

’n Boodskap oor Jerusalem

1Die uitspraak van die Here aangaande die plek waar visioene gesien word: Wat gaan aan? Hoekom hardloop almal na die dakke toe?

2Stad van oproer, stad wat altyd uitbundig was, so vol vreugde? Stad waar dié wat dood is, maar nie deur die swaard geval het of in die geveg omgekom het nie.

3Al jou leiers het saam weggehardloop. Hulle het oorgegee sonder om weerstand te bied. Die mense probeer wegkom, maar hulle word ook gevang.

4Daarom het ek gesê:

“Los my alleen dat ek kan huil.

Moenie my probeer troos nie.

Laat my huil oor my volk

wat vernietig word.”

5Die oppermagtige Here,

die Almagtige,

bring moeilikheid

en verwarring

oor die plek

waar visioene gesien word,

op ’n dag wanneer

die stadsmure afgebreek word.

Daardie dag sal die mense

na die berge roep vir hulp.

6Die Elamiete is boogskutters

wat met strydwaens kom.

Die mense van Kir

hou hulle skilde omhoog.

7Jou mooiste valleie

staan vol strydwaens.

Perderuiters staan

in die stadspoorte.

8Alles wat jou beskerm het,

word afgebreek.

Julle hardloop wapenkamer toe

om wapens te kry.

9Julle sien die mure

van Jerusalem

moet herstel word.

Julle gaar water op

in die onderste poel.

10Julle tel die huise in Jerusalem

sodat julle party kan afbreek

om die stene te gebruik

met die doel

om die stadsmuur te versterk.

11Tussen die stadsmure

bou julle ’n opgaarpoel

vir water uit die ou poel.

Maar al julle koorsagtige planne

sal niks help nie,

want julle raadpleeg nie vir God

wat dit alles gemaak het nie.

Julle eer Hom nie

wat dit alles lank terug beplan het.

12Die oppermagtige Here,

die Almagtige,

het julle geroep om te huil

en te rou.

Hy het gesê dat julle julle koppe

kaal moet skeer soos julle rou

oor julle sondes,

dat julle klere van sak moet dra

om te wys julle het berou.

13Maar in plaas daarvan

dans en speel julle!

Julle slag offerdiere,

eet vleis en drink wyn.

“Laat ons eet en drink,

en vrolik wees,” sê julle.

“Wat maak dit saak,

want môre

is ons in elk geval dood!”

14Die Here, die Almagtige,

het aan my gewys:

“Hierdie sonde van hulle

sal tot die dag van hulle dood

nie vergewe word nie.”

So sê die oppermagtige Here,

die Almagtige.

’n Boodskap vir Sebna

15So sê die oppermagtige

Here, die Almagtige:

“Gaan sê vir Sebna,

die administrateur

van die paleis:

16‘Wat dink jy, wie is jy?

Jy bou vir jou

’n pragtige graf

in die rots teen die hoogte.

17Die Here is op die punt

om jou te gryp

en ver weg te gooi.

Hy gaan jou

in ballingskap wegstuur,

jou verwaande vent!

18Hy gaan jou soos ’n bal

heen en weer gooi

en jou dan weggooi

in ’n ver, verlate land.

Daar sal jy doodgaan

en daar sal die strydwaens

waarmee jy so gespog het,

stukkend en nutteloos lê.

Jy is ’n skande vir jou koning!

19Ek ontslaan jou uit jou amp,

Ek vat jou weg uit jou posisie.

20Dan roep Ek my dienaar,

Eljakim seun van Gilkija,

om jou te vervang.

21Hy sal jou ampsklere dra,

en jou titel en jou gesag hê.

Hy sal ’n pa wees

vir die mense van Jerusalem

en Juda.

22Ek gee hom die sleutels

van die koning se huis,

die hoogste posisie

in die koninklike hof.

Hy sal deure oopsluit,

en niemand sal dit

kan toesluit nie.

En deure wat hy toesluit,

sal niemand kan oopsluit nie.

23Hy sal eer vir sy familie bring,

want Ek slaan hom so diep in

soos ’n tentpen.

24Hy sal

groot verantwoordelikhede hê,

en hy sal eer bring

vir selfs die geringste

van sy familie.’”

25Die Here, die Almagtige, sê:

“Dan trek Ek die tentpen

wat so diep ingeslaan was uit.

Dit sal loskom en val.

Alles wat daarop gesteun het,

sal ook val.

Die Here het gepraat!”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help