JOB 21 - Nuwe Lewende Vertaling

Job praat ’n sewende keer wanneer hy Sofar antwoord

1Job het weer gepraat:

2“Luister goed na wat ek sê.

Julle vertroos my al klaar

as julle dit doen.

3Verdra my en laat my praat.

As ek klaar is,

kan julle my spot!

4“Ek kla God aan, nie mense nie.

Daarom is ek so ongeduldig!

5Kyk na my en staan verstom.

Hou jou hand

oor jou mond van skok.

6As ek dink aan wat ek kwytraak,

bewe ek.

My hele lyf bewe.

7Die waarheid is:

goddeloses word stokoud!

Hulle word ryk en beroemd.

8Hulle sien hoe hulle kinders

volwassenheid bereik,

en geniet hulle kleinkinders.

9Hulle huise is veilig;

daar is niks wat hulle vrees nie.

God straf hulle ook nie.

10Hulle bulle dek al die koeie.

Hulle koeie kalf

en het geen misgeboorte nie.

11Hulle kinders

spring vrolik rond

soos lammetjies,

hulle dans oral rond.

12Hulle sing saam

met tamboeryn en lier.

Hulle is vrolik

terwyl die fluit speel.

13Hulle leef in voorspoed

en gaan na die graf in vrede

14en dit terwyl hulle vir God sê:

‘Gaan weg!

Ons wil niks met U

te doen hê nie.

15Wie is die Almagtige

dat ons Hom sou

gehoorsaam?

Watter nut is daarin

om tot Hom te bid?’

16Maar hulle voorspoed

hang nie af van hulleself nie.

Daarom kan ek nie saamstem

met hoe hulle dink

oor die lewe nie.

17“Die lewenslig van die goddelose

word egter nooit gedoof nie.

Hulle kry selde swaar.

As God oordeel uitdeel,

gaan Hy by hulle verby.

18Die wind jaag hulle nie

soos strooi rond nie.

En die stormwind doen niks

aan hulle nie.

19‘Ja,’ sê jy, ‘God sal dan

hulle kinders straf!’

Ek meen God behoort

dié wat sondig, te straf,

en nie hulle kinders nie.

Laat húlle self die straf uitdien!

20Laat hulle self sien

hoe hulle vernietig word.

Laat hulle diep drink

van die woede

van die Almagtige!

21Na hulle dood

skeel dit hulle min

wat met hulle families gebeur,

wanneer hulle eers dood is.

22“Maar wie is daar wat vir God

kan onderrig?

Hy is immers die Regter

oor al die belangrike mense.

23Een mens sterf in die fleur

van sy lewe

in voorspoed

en veiligheid,

24die prentjie van blakende

gesondheid,

sterk en fris.

25’n Ander mens sterf

in uiterste armoede.

Hy het nooit iets goeds

in die lewe beleef nie.

26Albei word begrawe

in dieselfde grond,

albei word deur wurms

opgevreet.

27“Kyk, ek weet wat julle dink.

Ek weet van die planne

wat julle teen my smee.

28Julle wil my vertel

van ryk en bose mense

wie se huise verdwyn het

as gevolg van hulle sondes.

29Vra vir die mense

wat baie reis.

Hulle sal julle

die waarheid vertel:

30Bose mense kom nie

in moeilikheid nie.

Hulle word toegelaat

om aan rampe te ontsnap.

31Niemand wys hulle

openlik tereg nie.

Niemand vergeld hulle

vir hulle wandade nie.

32Op pad na hulle graf

staan ’n lang erewag.

33Al wat leef,

kom na hulle begrafnis

om respek te betoon

terwyl hulle rustig lê

onder die grond.

34“Hoe kan julle my vertroos met

leë woorde?

Al julle redenasies is vals!”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help