JEREMIA 14 - Nuwe Lewende Vertaling

Droogte in Juda

1Dit is die boodskap wat die Here vir Jeremia oor die droogte gegee het:

2“Juda verdor,

sy besighede speel bankrot.

Sy mense rou oor die land,

en uit Jerusalem

klink ’n hulpgeroep.

3Die vername mense

stuur hulle diensknegte

om water te gaan haal,

maar die putte is droog.

Hulle kom met leë houers terug.

Hulle maak hulle koppe toe,

dronkgeslaan en moedeloos.

4Omdat dit nie gereën het nie,

bars die grond.

Die boere is ontsteld

en maak hulle koppe toe.

5Selfs die wildsbokooi

gooi haar lammetjie weg

omdat daar nie gras is nie.

6Die wildedonkies

staan op die kaal bulte

en snuif die lug

soos jakkalse wat dors is.

Hulle oë verdof,

want daar is nie gras om te eet nie.”

7“Here, ons sondes

het ons nou ingehaal.

Help ons

ter wille van u eie reputasie.

Ons het baie keer

teen U gesondig.

8U is Israel se enigste hoop,

ons Verlosser in krisistye!

Hoekom is U ’n vreemdeling

vir ons?

Hoekom is U soos iemand

wat reis deur die land

en net ’n nag oorslaap?

9Hoekom tree U op

soos iemand wat verward is,

soos ’n soldaat wat ons

nie kan help nie?

Maar U, Here, is mos by ons.

Ons is immers u volk.

Moet ons tog nie

aan ons lot oorlaat nie!”

10Die Here het sy volk

soos volg geantwoord:

“Julle hou mos daarvan

om van My af te dwaal.

Daarom aanvaar Ek

julle nie meer as my volk nie.

Ek sal nou

al julle boosheid onthou

en julle straf

vir julle sondes.”

Jeremia mag nie vir die volk bid nie

11Die Here het vir my gesê: “Moenie meer vir hierdie volk bid dat dit met hulle goed moet gaan nie.

12Selfs al vas hulle, sal Ek My nie aan hulle geroep steur nie. En al bring hulle ook brandoffers en graanoffers vir My, sal Ek dit nie aanvaar nie. Ek sal met hulle klaarspeel deur oorloë, hongersnood en siekte op hulle pad te bring.”

13Maar toe sê ek: “Oppermagtige Here, hulle profete sê vir hulle: ‘Julle sal nie oorlog of hongersnood beleef nie. Die Here sal verseker vir julle vrede bring.’”

14Die Here het toe vir my gesê: “Hierdie profete vertel leuens in my Naam. Ek het hulle nie gestuur nie. Nog minder het Ek hulle opdrag gegee om met julle te praat. Wat hulle sien, is vals en wat hulle van God bekendmaak, is niks werd nie. Dit is ’n spul leuens wat hulle self uitdink.

15Daarom sê die Here oor die profete: Ek sal die profete wat kamtig namens My praat, straf. Ek het hulle nie gestuur nie. Hulle sê mos dat daar nie oorlog of hongersnood in hierdie land sal kom nie. Hulle sal egter self in oorlog of van honger doodgaan!

16Die mense vir wie hulle profeteer, se lyke sal oral in die strate van Jerusalem lê. Mans, vroue en kinders sal slagoffers wees van hongersnood of van oorlog. Niemand sal oorleef om hulle te begrawe nie. Ek bring hulle eie oortredings oor hulle.

17“Jeremia, sê vir hulle:

‘Dag en nag

loop trane uit my oë.

Ek kan nie ophou huil nie.

Want my volk is soos ’n jong meisie

wat swaar gewond is

en besig is om dood te bloei.

18As ek in die veld kom,

sien ek oral mense lê

wat gewelddadig gesterf het.

Al wat ek sien as ek

in die strate van die stad loop,

is mense wat van honger

gesterf het.

Die profete en priesters

gaan aan met hulle werk,

maar hulle weet nie wat hulle doen nie.’”

Gebed om genesing

19Het U Juda nou totaal verwerp?

Haat U werklik vir Jerusalem?

Waarom het U ons so verwond

dat niemand

ons gesond kan maak nie?

Ons het vrede verwag,

maar daar was geen vrede nie.

Ons het gehoop

op genesing,

maar verskrikking

het gekom.

20 Here, ons bely ons

verkeerde dinge

wat ons en ons voorouers

gedoen het!

Ons het teenoor U gesondig.

21Ek vra dat U,

ter wille van Uself,

ons nie sal verwerp nie.

Moenie dat daar skade kom

aan u roemryke troon nie.

Moenie u verbond met ons

verbreek nie.

Moenie ons vergeet nie.

22Kan enige van die vreemde

afgode vir ons reën gee?

Val die reën

sommer vanself

uit die hemel?

Nee, dit kom van U af,

Here, ons God!

Dit is net U wat sulke dinge

kan doen.

Ons sal wag

tot U ons help.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help