PSALMS 60 - Nuwe Lewende Vertaling

God is die Oorwinnaar

1Vir die koorleier: Op die wysie van “Die lelie”. ’n Getuienis. ’n Gedig van Dawid, bedoel vir onderwysing

2met verwysing na sy geveg teen die Arameërs van Mesopotamië en die Arameërs van Sob, toe Joab teruggekeer het en 12 000 Edomiete in die Soutvlakte verslaan het.

3U het ons verstoot, o God,

ons verdediging afgebreek.

U was vir ons kwaad;

herstel tog u guns oor ons.

4U het ons land geskud

en dit oopgeskeur.

Heel tog die krake,

want dit stort ineen.

5U het u volk

laat swaarkry,

ons wyn laat drink

wat ons laat slinger.

6Vir dié wat U dien,

het U ’n vaandel gehys,

’n versamelplek

teen die boogskutters.

Sela

7Red ons met u krag en help ons

sodat U u geliefde volk kan red.

8In sy heilige woonplek

het God gesê:

“As oorwinnaar

sal Ek Sigem verdeel

en die vallei van Sukkot uitmeet.

9Gilead is Myne,

ook Manasse behoort aan My.

Efraim sal my krygsmanne

voortbring

en Juda sal my konings oplewer.

10Moab sal my dienaar word

en Edom sal my slaaf wees.

Oor Filistea juig Ek

as oorwinnaar.”

11Wie sal my lei

na die versterkte stad?

Wie sal my na Edom toe bring?

12Het U ons verwerp, o God?

Sal U, o God,

saam met ons leërs opruk?

13Help ons tog

teen ons vyande,

want menslike hulp

is waardeloos.

14Met God se hulp

sal ons seëvier,

want Hy sal ons vyande vertrap.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help