PSALMS 55 - Nuwe Lewende Vertaling

Vlerke soos ’n duif

1Vir die koorleier: Met snarespel. ’n Gedig van Dawid.

2Luister na my gebed,

o God.

Moenie my smeekbede ignoreer nie!

3Luister, asseblief,

en antwoord my,

want my moeilikhede

gee my nie rus nie.

Ek is ontsteld

4oor die dreiging

van my vyande,

oor die druk

van die goddeloses.

Hulle bring ellende oor my,

en kweek vyandskap

in hulle toorn.

5My hart pyn binne-in my.

Die angs van die dood

kom oor my.

6Vrees en bewing

oorweldig my.

Ek kan nie ophou bewe nie.

7Ek het gesê:

“As ek maar vlerke het

soos ’n duif,

dan sal ek wegvlieg

en rus hê!”

8Ek sou ver weg vlieg,

ek sou in die woestyn

gaan woon.

Sela

9Ek sou my haas om te ontvlug

van hierdie stormwind

en onweer.

10Verslind hulle, Here,

en verwar hulle spraak,

want ek sien geweld en stryd

in die stad.

11Dag en nag

loop hulle rondom

op die mure,

maar die boosheid en onheil

is in die stad!

12Verwoesting

is aan die orde van die dag,

verdrukking en bedrog

heers in die strate.

13Dis nie ’n vyand

wat my spot nie –

dit sou ek kon verdra.

Dis nie my vyand

wat teen my grootpraat nie –

ek sou vir hom

kon wegkruip.

14Maar nou is dit jy,

’n man soos ek,

my goeie vriend en my metgesel.

15Watter goeie kameraadskap

het ons geniet!

Ons het saam gegaan

na die huis van God

te midde van ’n skare mense!

16Laat die dood hulle oorval.

Laat die doderyk

hulle lewendig verslind,

want boosheid heers

in hulle huise en harte.

17Maar ek roep tot God,

en die Here sal my verlos.

18Saans, soggens en smiddae

pleit ek en kla ek,

en Hy hoor my stem.

19Hy red my lewe

en bring my veilig

uit die stryd

wat teen my woed,

want baie is vyandig teenoor my.

20God sal hoor en hulle verneder,

Hy wat van altyd af regeer.

Sela

Want hulle bekeer hulle nie

en dien God nie.

21My metgesel

het teen sy vriende

gedraai;

hy het sy ooreenkoms

verbreek.

22Sy woorde is so glad

soos botter,

maar sy hart vol oorlog.

Sy woorde is strelend soos olie,

maar dis soos

’n ontblote swaard!

23Gee jou kommer

oor aan die Here.

Hy sal vir jou sorg.

Hy sal gelowiges

nie teleurstel nie.

24Maar U, o God,

sal die bose mense

na die graf van verderf

laat afdaal.

Moordenaars en bedrieërs

sal jonk sterf,

maar ek sal op U vertrou.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help