2 SAMUEL 23 - Nuwe Lewende Vertaling

Die laaste woorde van Dawid

1Hier volg die laaste woorde van Dawid:

“Dit is Dawid seun van Isai

wat praat,

dis woorde van die man

vir wie God

aansien gegee het,

die gesalfde

van die God van Jakob,

die geliefde psalmdigter

van Israel.

2“Die Gees van die Here

het deur my gepraat;

sy woorde was op my lippe.

3Die God van Israel het gepraat,

die Rots van Israel

het vir my gesê:

‘Die mens

wat regeer

met regverdigheid,

wat regeer

in eerbied teenoor God,

4hy is soos die môrelig

wanneer die son

in die oggend verskyn

in ’n wolklose hemel,

soos helderheid ná die reën

wat jong gras

uit die aarde laat groei.’

5“Staan my huis nie by God nie?

Het Hy dan nie

’n blywende verbond

met my gemaak,

een wat in elke opsig

bevestig, gewaarborg is nie?

Al my redding, al my vreugde –

kom net van Hom af.

6“Maar bose mense

is soos dorings

wat weggegooi word

en nie met kaal hande

hanteer moet word nie.

7Wie dit aanraak,

moet dit doen met yster

of met die steel van ’n spies.

In ’n vuur brand dit uit.”

Dawid se helde

8Hier volg die name van Dawid se helde. Die eerste was Joseb-Bassebet die Tagkemoner, leier van die Driemanskap. Hy het op ’n keer met sy spies 800 vyandige soldate tydens een veldslag doodgemaak.

9Na hom was daar Eleasar seun van Dodo, die Agoagiet. Hy was een van die Driemanskap by Dawid toe die Filistyne by Garpam bymekaargekom het vir oorlog. Die Israeliete het gevlug,

10maar hy het bly staan en die Filistyne afgemaai totdat sy hand so moeg geword het dat hy nie sy hand kon oopmaak en sy swaard kon los nie. Daardie dag het die Here ’n groot oorwinning gegee. Toe eers het die leër Eleasar gevolg, maar net om te plunder.

11Die volgende in rang van die Driemanskap, was Samma seun van Agee uit Harar. Die Filistyne het op ’n keer by Legi versamel naby ’n landery vol lensies. Die Israeliete het gevlug,

12maar Samma het vasgestaan in die landery, dit verdedig en die Filistyne teruggedryf. Die Here het aan hulle ’n groot oorwinning gegee.

13Drie van die Dertigtal het eenkeer tydens die oestyd by Dawid by die Adullamgrot aangekom. Die Filistyne het in die Spooklaagte kamp opgeslaan.

14Dawid was toe in die bergskuiling, terwyl ’n afdeling Filistyne die dorp Betlehem beset het.

15Dawid het teenoor sy manskappe opgemerk: “Ag! As iemand my net ’n bietjie water kan bring uit die put in Betlehem se poort!”

16Die drie helde het toe deur die Filistynse linie gebreek, die water uit die put opgetrek en dit vir Dawid gebring. Maar Dawid wou dit nie drink nie. Hy het dit as ’n offer voor die Here uitgegiet

17en gesê: “Mag die Here my daarvan bewaar dat ek hiervan drink! Is dit nie soos die bloed van hierdie manne wat met lewensgevaar gegaan het nie?” Dawid het dit dus nie gedrink nie. Dis die soort heldedade van die drie krygsmanne.

Dawid se dertig helde

18Abisai seun van Seruja en broer van Joab, was die leier van die Dertigtal. Hy het eenkeer met sy spies 300 man in een geveg doodgemaak. Dis waarom hy beroemd geword het by die Dertigtal.

19Abisai was die beroemdste van die Dertigtal en was hulle bevelvoerder, maar hy was nie een van die Driemanskap nie.

20Dan was daar Benaja seun van Jojada, ’n dapper vegter uit Kabseël. Hy het twee sterk manne in Moab doodgemaak. Op ’n dag toe dit gesneeu het, het hy in ’n droë put geklim en ’n leeu daar doodgemaak.

21’n Ander keer het hy ’n sterk Egiptenaar doodgemaak. Die Egiptenaar was gewapen met ’n spies, terwyl Benaja net ’n stok gehad het. Maar Benaja het die spies uit die man se hand geruk en hom met sy eie spies doodgemaak.

22Dit is sommige van die dade wat Benaja seun van Jojada gedoen het. Hy was beroemd onder die Dertigtal.

23Hy was meer geëerd as die ander lede van die Dertigtal, maar het nie een van die Driemanskap geword nie. Dawid het hom bevelvoerder van sy lyfwag gemaak.

24Ander lede van die Dertigtal was: Asael, Joab se broer, Elganan seun van Dodo uit Betlehem,

25Samma uit Garod, Elika uit Garod,

26Geles uit Pelet, Ira seun van Ikkes uit Tekoa,

27Abiëser uit Anatot, Sibbekai uit Gusa,

28Salmon uit Agoag, Marai uit Netofa,

29Geled seun van Baäna uit Netofa, Ittai seun van Ribai uit Gibea in Benjamin,

30Benaja uit Piraton, Hiddai uit Nagale-Gaäs,

31Abi-Albon uit Bet-Araba, Asmawet uit Bagurim,

32Eljagba uit Saälbon, die seuns van Jasen, Jonatan, seun van

33Samma die Harariet, Agiam seun van Sarar uit Arar,

34Elifelet seun van Agasbai, die Maäkagiet, Eliam seun van Agitofel uit Gilo,

35Gesro uit Karmel, Paärai uit Arab,

36Jigal seun van Natan uit Soba, Bani uit Gad,

37Selek die Ammoniet, Nagrai uit Beërot, wapendraer van Joab seun van Seruja,

38Ira uit Jeter, Gareb uit Jeter,

39Urija die Hetiet.

Daar was altesaam 37.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help