SEFANJA 2 - Nuwe Lewende Vertaling

Keer terug na die Here

toe

1Reël ’n byeenkoms en vergader,

skaamtelose nasie!

2Doen dit terwyl julle nog kan,

voordat die oordeel begin

en julle soos kaf sal wegwaai.

Doen dit nou,

voordat die brandende woede

van die Here oor julle ontvlam.

Doen dit

voordat sy verskriklike oordeelsdag

vir julle aanbreek.

3Soek die Here,

alle nederiges in die land,

en doen wat Hy van julle verwag.

Soek wat reg is

en wees nederig.

Miskien sal Hy julle beskerm

wanneer die oordeelsdag aanbreek.

Straf vir Filistynse stede

4Gasa sal verlate lê

en Askelon sal verwoes word.

Laatmiddag sal Asdod se inwoners

uitgedryf wees

en Ekron se inwoners uitgeroei wees.

5Dit sal ellendig gaan

met hulle wat van Kreta af kom,

met hulle wat woon

langs die kus by die see.

Dit is die Here se boodskap vir julle:

“Kanaän, land van die Filistyne,

Ek sal jou vernietig,

en geen inwoners sal meer oorbly nie.

6Die kusgebied sal ’n weiveld wees,

’n kampplek vir herders,

en ’n skuiling vir skape.”

7Dit sal ook ’n weiplek wees

vir die oorblyfsel van Juda.

In die aand sal die huise van Askelon

hulle rusplekke wees.

Die Here hulle God sal vir hulle sorg

en hulle weer

voorspoedig maak.

Straf vir Moab en Ammon

8“Ek het gehoor hoe Moab

verkleinerend praat,

en hoe die Ammoniete

die spot dryf.

Hulle het my volk verneder

en hulle grondgebied bedreig.

9Daarom,” sê die Here,

die Almagtige,

die God van Israel,

“sowaar as wat Ek lewe,

Moab sal word soos Sodom

en Ammon soos Gomorra.

Hulle lande sal vol onkruid

en soutpanne wees,

’n woesteny vir altyd.

Dié van my volk wat oorleef het,

sal hulle beroof.

Die oorblyfsel van my volk

sal hulle land inneem.”

10Dit is wat hulle kry

in ruil vir hulle verwaandheid,

want hulle het my volk verkleineer

en beledig,

sê die Here, die Almagtige.

11Vir hulle sal die Here

’n verskrikking wees,

want al die gode in die land

vernietig Hy.

Mense uit alle dele van die wêreld,

elkeen in hulle eie land,

sal voor Hom neerbuig

en Hom aanbid.

Straf vir die Kussiete en Assirië

12“Kussiete,” sê die Here, “ook julle

sal Ek doodmaak met my swaard.”

13Hy sal die lande in die noorde tref:

Assirië sal Hy vernietig

en Nineve ’n verlate plek maak,

dor soos die woestyn.

14Skape sal daar lê,

en diere van allerlei soorte.

Uile van verskeie spesies

sal slaap op die murasies.

Deur die oop vensters

sal hulle geroep weergalm.

Bourommel sal die ingange versper

en die sederhout sal ontbloot word.

15Dit is die lot van hierdie stad

wat so sorgvry woon.

“Nêrens in die wêreld,”

het die stad geroem en gesê,

“is daar ’n stad soos hierdie een nie!”

Maar kyk, dit het

’n puinhoop geword,

’n lêplek vir wilde diere!

Verbygangers sal fluit van verbasing,

hulle hande in ongeloof saamslaan.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help