LEVITIKUS 12 - Nuwe Lewende Vertaling

Reiniging na geboorte

1Die Here het vir Moses gesê: “Gee hierdie instruksies aan die Israeliete:

2Wanneer ’n vrou swanger word en geboorte skenk aan ’n seun, sal sy vir sewe dae onrein wees, net soos gedurende haar menstruasie.

3Op die agtste dag moet die seuntjie besny word.

4Daarna moet die vrou vir nog 33 dae wag totdat sy ophou bloei ná die geboorte. Gedurende die tyd van suiwering mag sy aan niks raak wat heilig is nie. Sy mag ook nie na die heiligdom toe gaan totdat die tyd van suiwering verby is nie.

5As ’n vrou geboorte skenk aan ’n dogter sal sy vir twee weke lank onrein wees, net soos gedurende haar menstruasie. Daarna moet die vrou vir nog 66 dae wag totdat sy na die geboorte opgehou het om te bloei.

6“As die tyd van reiniging – vir ’n seun of ’n dogter – verby is, moet die vrou ’n jaaroud lam as brandoffer en ’n jong duif of tortelduif as ’n suiweringsoffer bring. Sy moet haar offers na die priester by die ingang van die tent van ontmoeting bring.

7Die priester sal dit dan vir die Here offer en ook versoening vir haar doen. Dan sal sy weer rein wees ná die bloed wat met die geboorte gevloei het. Dit is die instruksies wat gevolg moet word ná die geboorte van ’n seun of ’n dogter.

8“As die vrou nie kan bekostig om ’n lam te bring nie, moet sy twee tortelduiwe of twee jong duiwe bring. Een is bedoel vir die brandoffer en die ander een vir die reinigingsoffer. Die priester sal hulle offer en so vir haar versoening doen en sy sal weer rein wees.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help