ESEGIËL 31 - Nuwe Lewende Vertaling

Egipte vergelyk met Assirië

1Op 21 Junie, gedurende die elfde jaar van koning Jojagin se ballingskap, het die Here vir my gesê:

2“Mensekind, gaan sê vir die farao, koning van Egipte, en al sy mense:

“Met wie kan jou grootheid

vergelyk word?

3Jy is soos Assirië.

Hy was op die Libanonberge

’n seder met baie dik takke.

Met sy top tussen die wolke,

het dit die bos donker gemaak.

4Die waters het hom natgemaak

en hy het groot en hoog gegroei.

Die water was ook genoeg

vir alle bome rondom hom.

5Hierdie groot boom

het bo al die ander bome

uitgestaan.

Hy het floreer

met lang, dik takke

omdat daar so baie water was.

6Die voëls van die hemel

het in sy takke nes gemaak;

in sy skaduwee

het die wilde diere

hulle kleintjies

in die wêreld gebring.

Die groot nasies van die wêreld

het in sy skaduwee geleef.

7Hy het groot en mooi geword

met takke

wat ver uitgesprei het.

Sy wortels het diep afgegaan

na waters

wat in oorvloed was.

8Die seders in die tuin van God

kon nie met hom meeding nie.

Die sipresse en platane se takke

was nie so groot

soos syne nie.

Geen boom in die tuin van God

was so mooi

soos hierdie seder nie.

9Ek het hom mooi gemaak

met baie takke.

Al die ander bome

in die tuin van God

was jaloers op hom.

10“So sê die oppermagtige Here: Die seder het trots en arrogant geword, en homself bo ander aangestel en sy top tot tussen die wolke gedruk.

11Daarom het Ek hom oorgegee aan die leier van nasies wat hom gaan vernietig soos sy boosheid verdien. Ek het hom eenkant neergegooi.

12Die wreedste van vreemde soldate het hom afgekap en hom op die grond laat val. Die takke lê verstrooid oor die berge en valleie en ravyne. Al die mense wat in sy skaduwee geleef het, het weggegaan en hom agtergelaat.

13Die voëls het op sy omgevalle stam kom sit, en die wilde diere het tussen sy takke gelê.

14Daarom sal geen boom wat by waters staan, ooit weer trots word en sy kop tussen die wolke optel nie. Geen ander boom mag weer so hoog word nie. Hulle is almal bestem om dood te gaan, na die graf toe tussen sterflike mense.

15“So sê die oppermagtige Here: Toe hy in die graf afgegaan het, het die waters oor hom getreur, en Ek het die strome teruggehou sodat daar nie meer water was nie. Ek het die Libanon swart aangetrek en die bome van die veld het oor hom verlep.

16Ek het die nasies laat bewe voor die gedreun van sy val, want Ek het hom graf toe gestuur saam met al die ander wat soos hy is. Die ander trotse bome van Eden, die mooiste en beste van die Libanon, hulle wat water gebruik het, was bly in die onderwêreld.

17Hulle is ook almal vernietig en doodgemaak. Al die nasies wat in sy skaduwee geleef het, het in die graf beland.

18“Met watter een van die bome van Eden kan jou mag en aansien vergelyk word, Egipte? Tog sal jy ook saam met die bome van Eden na die onderwêreld gebring word. Jy sal lê tussen die bannelinge wat met die swaard doodgemaak is. Dit is wat met die farao en al sy soldate gaan gebeur, sê die oppermagtige Here.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help