JESAJA 38 - Nuwe Lewende Vertaling

Hiskia se siekte en herstel

1Omtrent daardie selfde tyd het Hiskia dodelik siek geword. Die profeet Jesaja seun van Amos het hom gaan besoek. Hy gee toe vir die koning hierdie boodskap: “So sê die Here: Kry jou sake in orde, want jy gaan sterf. Jy sal nie van hierdie siekte herstel nie.”

2Toe Hiskia dit hoor, het hy sy gesig na die muur toe gedraai. Hy het tot die Here gebid:

3“Here, onthou hoe ek altyd probeer het om aan U getrou te bly. Ek het probeer doen wat goed is.” Toe het hy bitterlik gehuil.

4Toe het hierdie boodskap van die Here na Jesaja gekom:

5“Gaan terug na Hiskia toe en sê vir hom: Dis wat die Here, die God van jou voorouer Dawid sê: Ek het jou gebed verhoor. Ek het jou trane gesien. Ek voeg vyftien jaar by jou lewe.

6En Ek sal jou en hierdie stad uit die mag van die koning van Assirië red. Ek sal hierdie stad beskerm.

7“En dit sal die teken wees wat die Here vir jou gee om te bewys dat Hy sal doen wat Hy belowe het:

8Ek sal sorg dat die son se skaduwee tien trappe op Agas se sonwyser terugskuif!” Die skaduwee op die sonwyser het toe tien trappe teruggeskuif.

Hiskia se loflied

9Ná koning Hiskia herstel en gesond geword het, het hy hierdie gedig oor sy ervaring geskryf:

10Ek het gesê:

“Moet ek doodgaan

in die fleur van my lewe?

Moet my beste jare

gesteel word?”

11Ek het gesê:

“Ek sal nooit weer

die Here God sien

in die land van die lewendes nie.

Ek sal nooit weer

my vriende sien

wat in hierdie wêreld leef nie.

12My lewe is weggeblaas

soos ’n herder se tent in ’n storm.

Dis kortgeknip

soos wanneer ’n wewer

’n stuk materiaal afsny.

Skielik het U my lewe

laat verbygaan.

13Heelnag lank

het ek geduldig

op U gewag.

Maar ek is uitmekaargeskeur

soos deur leeus.

Skielik het U my lewe

laat verbygaan.

14Ek was deurmekaar

en het soos ’n voël geklink,

soos ’n duif wat kla.

My oë het moeg geword

soos ek opgekyk het

na die hemel toe vir hulp.

Ek is in die moeilikheid, Here.

Help my!”

15Maar wat kon ek sê?

Die Here het met my gepraat.

Hy het dit alles gedoen.

Nou sal ek my hele lewe lank

nederig wees

oor wat ek moes verduur het.

16Here, u dissipline is goed,

want dit lei tot lewe

en gesondheid.

U het my gesondheid teruggegee

en my toegelaat om te lewe!

17Ja, dit was vir my goed

om al hierdie angs te ervaar,

want U het my gered

van die dood.

U het al my sondes vergewe.

18Want in die graf

kan niemand U prys nie.

Dooies kan nie u lof

verkondig nie.

Dié wat gesterf het,

kan nie hoop op u trou nie.

19Net die lewendes kan U loof,

soos ek vandag doen.

Vaders moet hulle kinders

van u getrouheid vertel.

20Die Here is my redder!

Met musiekinstrumente

sal ons elke dag van ons lewe

u lof besing

in die tempel van die Here.

21Jesaja het toe gesê: “Bring ’n vyekoek, sit dit op die sweer, en hy sal gesond word.”

22Hiskia het gevra: “Watter teken sal bewys dat ek weer na die tempel van die Here toe sal gaan?”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help