MIGA 7 - Nuwe Lewende Vertaling

Ellende verander in hoop

1Dit gaan ellendig met my!

Ek voel soos iemand

in ’n vrugteboord

nadat die oes al afgepluk is.

Daar het nie ’n trossie druiwe

of ’n enkele vy oorgebly

wat my honger kan stil nie.

2Al die gelowige mense

het verdwyn.

’n Mens kry nie meer

eerlike mense nie.

Hulle is almal

moordenaars,

hulle stel vernietigende strikke

vir hulle eie mense.

3Hulle hande

staan vir niks verkeerd

as dit by verkeerd doen kom nie.

Die amptenare

eis omkoopgeld

net soos die regters.

Mense in belangrike posisies

maak hulle wense bekend,

sweer met hulle saam

en verdraai dan die reg.

4Die bestes onder hulle

is soos ’n gifplant,

die eerlikstes soos ’n bos

met gevaarlike dorings.

Maar die dag van afrekening

is baie naby.

Dit sal ’n tyd

van groot chaos wees.

5Tel jou woorde!

Moet niemand vertrou nie,

nie eers ’n beste vriend

of selfs jou vrou of man nie.

6’n Seun sal sy pa verag.

’n Dogter sal opstandig wees

teen haar ma

en ’n skoondogter

teen haar skoonma.

Jou vyande

sal in jou eie huis wees!

7Ek, daarenteen,

sien met verwagting uit

na wat die Here gaan doen.

Ek wag in vertroue

dat God my moet red.

My God sal my verseker verhoor!

8My vyande, julle moenie

julle oor my verlekker nie!

Ek het geval,

maar ek sal weer opstaan.

Al sit ek nou in duisternis,

die Here is ’n lig vir my.

9Ek sal die straf van die Here verduur,

want ek het teen Hom gesondig.

As dit eers verby is,

sal Hy my saak opneem

teen my vyande.

Hy sal reg aan my laat geskied.

Hy sal weer lig in my lewe bring

en ek sal sy regverdigheid sien.

10Dan sal my vyande sien

dat Hy aan my kant is.

Hulle sal skaam kry

omdat hulle my gespot het

deur te sê:

“Waar is die Here jou God?”

Ek sal toekyk terwyl hulle

soos modder

op die strate vertrap word.

11Israel,

daar sal ’n tyd aanbreek

wanneer julle julle stede

sal herbou

en julle grense sal uitbrei.

12In dié tyd sal mense

van verskillende lande kom

om eer aan julle te bring.

Hulle sal van Assirië af kom

tot by Matsor in Egipte,

van Matsor af tot by die Eufraat,

van see tot see

en van berg tot berg.

13Maar die aarde sal leeg

en verlate wees

as gevolg van wat die inwoners

gedoen het.

Die Here

se medelye met Israel

14Kom lei u volk soos ’n herder,

die kudde wat aan U behoort!

Hulle wei alleen in ’n bos

in Karmel.

Laat hulle weer

soos vroeër wei

tot in Basan en Gilead.

15“Ek sal hulle

weer wonders laat sien

soos toe Ek hulle uit Egipte

uitgelei het.”

16Die nasies van die wêreld

sal verbaas staan

oor wat die Here

vir julle sal doen.

Hulle sal skaam kry

oor hulle kragteloosheid.

Hulle sal stomverbaas staan,

hulle ore sal doof word.

17Die volke sal dan besef

dat hulle nikswerd is.

Hulle sal soos slange

oor die grond seil,

soos kruipende gediertes

op die aarde.

Hulle sal bewend

uit hulle skuilings

na die Here ons God toe kom,

bevrees en bang

vir sy teenwoordigheid.

18Wie is ’n God soos U?

U vergewe sonde

en straf nie die sonde

of die oortredings

van hulle wat oorgebly het nie.

U bly nie vir altyd kwaad nie,

maar is liefdevol en getrou.

19U sal weer medelye hê met ons.

U sal ons sonde onder

u voete vertrap,

dit weggooi in die diepte

van die see!

20Reeds lank gelede

het U aan ons voorvaders,

Jakob en Abraham,

u trou en liefde

met ’n eed belowe.

Betoon dit nou

ook aan ons.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help