1 SAMUEL 15 - Nuwe Lewende Vertaling

Saul moet die Amalekiete uitroei

1Op ’n dag sê Samuel vir Saul: “Ek het jou as koning oor Israel gesalf omdat dit die Here se opdrag aan my was. Luister nou na die boodskap van die Here:

2Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: ‘Ek het besluit om Amalek tot verantwoording te roep omdat hulle Israel teengestaan het toe hulle uit Egipte getrek het.

3Jy moet nou gaan en Amalek heeltemal uitroei. Doen dit sonder dat jy iemand oorsien, mans, vroue, kinders, babas, grootvee, kleinvee, kamele en donkies.’”

4Saul het toe sy soldate by Telaim bymekaargeroep. Daar was 200 000 manskappe behalwe die 10 000 uit Juda.

5Saul gaan toe na die stad van Amalek en stel ’n hinderlaag by die spruit.

6Hy stuur ook ’n boodskap aan die Keniete: “Gee pad tussen die Amalekiete, anders sal julle saam met hulle omkom. Julle was Israel immers goedgesind toe hulle uit Egipte opgetrek het.” Die Keniete het toe padgegee.

7Saul het daarna die Amalekiete verslaan van Gawila af tot by Sur, oos van Egipte.

8Hy het Agag, die koning van Amalek, gevange geneem, maar al die ander mense en diere totaal uitgewis.

9Saul en sy manskappe het Agag se lewe gespaar, asook die beste skape en beeste, die vet kalwers en lammers – trouens, alles wat hulle begeer het. Hulle het net dit wat waardeloos was, vernietig.

Die Here

verwerp Saul

10Die Here sê toe vir Samuel:

11“Ek is spyt daaroor dat Ek Saul koning gemaak het, want hy was ontrou aan My en ongehoorsaam aan my opdragte.” Samuel was baie ontsteld hieroor en het die hele nag lank by die Here gepleit.

12Vroeg die volgende môre het Samuel vir Saul gaan soek. Iemand sê vir hom: “Saul is Karmel toe om ’n gedenkteken vir homself op te rig. Hy het toe omgedraai en Gilgal toe gegaan.”

13Toe Samuel hom uiteindelik kry, het Saul hom vriendelik gegroet en gesê: “Mag die Here u seën! Ek het die Here se opdrag uitgevoer!”

14“Hoekom hoor ek dan die geblêr van skape en die gebulk van beeste?” vra Samuel.

15“Die soldate het van die diere gespaar,” antwoord Saul. “Hulle het die beste van die skape en die beeste van Amalek saamgebring om vir die Here u God te offer. Al die ander het ons vernietig.”

16Daarop sê Samuel vir Saul: “Wag ’n bietjie, laat ek jou vertel wat die Here laas nag vir my gesê het!”

“Wat was dit?” vra Saul.

17Samuel sê vir hom: “Voorheen het jy min van jouself gedink, tog het jy die leier van die stamme van Israel geword. Die Here het jou tot koning van Israel gesalf.

18Die Here het jou met hierdie opdrag gestuur en gesê: ‘Jy moet die sondaars, die Amalekiete, gaan vernietig en hulle almal totaal uitwis.’

19Hoekom het jy nie na die Here geluister nie? Hoekom het jy jou aan die buit vergryp en presies dit gedoen wat die Here gesê het jy nie moes doen nie?”

20“Maar ek hét na die Here geluister,” hou Saul vol. “Ek het die opdrag wat Hy my gegee het, uitgevoer. Ek het koning Agag teruggebring, maar ek het al die ander mense doodgemaak.

21Die soldate het die beste van die skape en beeste gebring om vir die Here u God in Gilgal te offer.”

22Maar Samuel antwoord:

“Wat verkies die Here:

brandoffers

of gehoorsaamheid?

Gehoorsaamheid

is beter as offers;

om te luister

is beter as die vet van ramme.

23Opstandigheid is

net so ’n oortreding

soos waarsêery,

en hardkoppigheid is net so ’n sonde

soos afgodery.

Omdat jy die Here se woord

verwerp het,

het Hy jou as koning verwerp.”

Saul pleit om vergifnis

24Toe bely Saul: “Ek het gesondig. Ek was ongehoorsaam aan die Here se opdrag en u voorskrifte, want ek was bang vir die manskappe en het aan hulle versoeke toegegee.

25Maar nou vra ek om vergifnis en dat u saam met my sal gaan om die Here te aanbid.”

26Maar Samuel antwoord: “Ek sal nie saam met jou gaan nie! Omdat jy die Here se opdrag verwerp het, het Hy jou verwerp as koning oor Israel.”

27Toe Samuel omdraai om te gaan, gryp Saul aan sy kleed sodat dit geskeur het.

28Samuel sê vir hom: “Die Here het vandag die koninkryk van Israel van jou afgeskeur en dit vir iemand anders gegee wat beter is as jy.

29Die Ewige van Israel lieg nie en sal ook nie sy plan verander nie, want Hy is nie ’n mens wat van gedagte verander nie!”

30Saul het weer by hom gepleit: “Ek weet ek het gesondig. Maar asseblief, eer my voor die leiers en die manskappe deur saam met my te gaan om die Here u God te aanbid.”

31Uiteindelik het Samuel ingestem en saam met hom gegaan. Saul het toe die Here aanbid.

Samuel maak Agag dood

32Samuel sê toe vir Saul: “Bring Agag, koning van die Amalekiete, hier na my toe.” Agag kom toe vol verwagting, en sê vir homself: “Hulle gaan my beslis nie doodmaak nie!”

33Maar Samuel sê:

“Soos jou swaard baie ma’s

kinderloos gemaak het,

so sal jou ma

nou kinderloos wees.”

Toe het Samuel vir Agag voor die Here in Gilgal in stukke gekap.

34Daarna het Samuel na sy huis in Rama gegaan en Saul na sy huis in Gibea.

35Samuel het tot op die dag van sy dood nooit weer vir Saul gesien nie, hoewel hy oor hom gerou het. Die Here het berou gehad dat Hy Saul koning van Israel gemaak het.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help