JESAJA 61 - Nuwe Lewende Vertaling

Goeie nuus vir verdruktes

1Die Gees

van die oppermagtige Here

het op my gekom.

Die Here het my gesalf

om goeie nuus te bring

vir arm mense.

Hy het my gestuur

om dié wat hartseer is,

te troos,

om vir die gevangenes

vryheid aan te kondig,

en vrylating

vir dié in die tronk;

2om die genadejaar

van die Here aan te kondig,

die dag van afrekening

vir ons God.

Maar almal wat treur, troos Hy,

3die dag wanneer Hy

vir dié wat in Sion treur,

eer gee in plaas van smart,

vreugde in plaas van droefheid,

blydskap in plaas van hartseer.

Die Here het hulle geplant

soos sterk en groot eike

om sy roem

te vermeerder.

4Hulle sal die verlate stede

herbou,

en die plekke weer opbou

wat lank gelede verwoes is.

Hulle sal die verwoeste stede

herstel,

plekke wat vir geslagte lank

verlate gelê het.

5Buitelanders sal julle kleinvee

laat wei,

vreemdelinge sal julle landerye

en julle wingerde bewerk.

6Julle sal genoem word:

die priesters van die Here,

die bedienaars van ons God.

Julle sal die skatte

van die nasies geniet,

en spog met hulle rykdom.

7In plaas van vernedering

en minagting

sal my volk

’n dubbele deel ontvang

van voorspoed en ewige vreugde.

8“Want Ek, die Here,

het geregtigheid lief.

Ek haat diefstal en misdaad.

Omdat Ek getrou is,

sal Ek my volk beloon

vir hulle lyding.

Ek sluit ’n verbond met hulle

wat vir altyd sal bestaan.

9Hulle afstammelinge

sal bekend wees

onder die volke,

en hulle nakomelinge

onder die nasies.

Almal wat hulle sien,

sal besef dat hulle ’n volk is

wat die Here geseën het.”

10Ek verheug my in die Here!

Ek is bly in my God!

Want Hy het vir my

klere van redding aangetrek,

en vir my die mantel

van regverdigheid omgehang.

Ek is soos ’n bruidegom

met sy sierkroon,

soos ’n bruid verfraai

met haar juwele.

11Soos die grond die plante

laat uitspruit

en die vrugtebome in ’n tuin

vrugte lewer,

so sal die oppermagtige Here

sy reg vir al die nasies toon.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help