1Die Here het weer met my gepraat: “Maak ’n groot bord en skryf duidelik hierdie naam daarop: Maher-Shalal-Hash-Bas, wat Plunder en roof is naby beteken.
2Ek het Urija die priester en Sagaria seun van Jeberekja gevra om te bevestig wat ek geskryf het. Hulle was albei betroubare mense.”
3Hierna het ek by my vrou, wat ook ’n profeet was, geslaap en sy het verwagtend geword. Sy het geboorte gegee aan ’n seun. Die Here het gesê: “Noem hom: Plunder-en-Roof-is-Naby.
4Hierdie naam profeteer dat nog voor die kind oud genoeg sal wees om ‘Pappa’ of ‘Mamma’ te sê, die koning van Assirië Damaskus en Samaria sal binneval en al hulle besittings sal wegdra.”
5Die Here het weer met my gepraat en gesê:
6“Die volk van Juda het Siloag
se kalm waters
verwerp en bly geword
oor wat met koning Resin
en koning Peka gaan gebeur.
7Daarom sal die Here
húlle oorweldig
met ’n magtige vloed,
die Eufraatrivier –
die koning van Assirië
in al sy glorie.
Die rivier gaan oor sy oewers stoot,
oor al sy walle spoel.
8Die vloed sal jou land oorspoel,
van die een kant tot
die ander kant toe, Immanuel.
9“Die Assiriërs sal roep:
‘Doen julle bes
om julleself te verdedig,
maar julle sal verpletter word.
Luister, al julle nasies!
Maak reg vir die geveg –
om doodgemaak te word!
Ja, om doodgemaak te word!
10Roep maar julle adviseurs
bymekaar
om strategieë vir die geveg
vir julle te beplan!
Maak maar planne!
Dit sal nie help nie.
Want God is met ons!’”’n Oproep om die Here
te vertrou11Die Here het in die sterkste terme vir my verduidelik: “Moenie dink soos al die ander dink nie!
12Moenie alles wat die volk ’n sameswering noem as ’n sameswering beskou nie en moenie bang wees waarvoor die volk bang is nie.
13Moenie vir enigiets of enigiemand bang wees nie, behalwe vir die Here, die Almagtige. Hy alleen is die Heilige Een. As julle Hom vrees, hoef julle vir niemand anders bang te wees nie.
14Hy sal julle veilig bewaar. Maar vir Juda en Israel sal Hy ’n steen wees wat mense laat struikel en ’n rots wat hulle laat val. En vir die inwoners van Jerusalem sal Hy ’n vangnet wees waarin hulle verstrik raak.
15Baie van hulle sal struikel en val, om nooit weer op te staan nie. Baie sal gevange geneem word.”
16Ek wil al hierdie dinge neerskryf as ’n getuienis van wat die Here gaan doen. Ek wil dit aan my volgelinge toevertrou.
17Ek wil wag op die Here,
alhoewel Hy weggedraai het
van die mense van Israel.
My enigste hoop is op Hom.
18Ek en die kinders wat die Here my gegee het, het name wat die planne van die Here, die Almagtige, wat op Sionsberg woon, vir sy volk openbaar.
19Hoekom probeer julle dan om uit te vind wat die toekoms inhou deur mediums en spiritiste te raadpleeg? Moenie na hulle gefluister en gemompel luister nie. Kan die lewendes by die dooies hoor wat die toekoms inhou? Hoekom vra jy nie eerder jou God nie?
20Gaan terug na wat die Here gesê en beveel het! As julle julle nie daaraan steur nie, is daar geen toekoms vir julle nie.
21My volk sal as gevangenes weggelei word. Hulle sal moeg en honger wees. En omdat hulle honger is, sal hulle hulle vuis teen die hemel oplig en hulle koning en hulle God vloek.
22Waar hulle ook al kyk, sal daar net moeilikheid, angs en wanhoop wees. Mense sal in die donkerte uitgegooi word.
Hoop op die Messias23Nogtans sal daardie tyd van donkerte en wanhoop nie vir altyd aanhou nie. Die land van Sebulon en Naftali sal gou verneder word, maar daar kom ’n tyd dat Galilea van die heidene, wat langs die pad tussen die Jordaan en die see lê, met heerlikheid gevul sal word.
Who We AreWhat We EelieveWhat We Do
2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.