JESAJA 17 - Nuwe Lewende Vertaling

’n Boodskap oor Aram en Israel

1Hierdie boodskap het na my gekom oor Damaskus, hoofstad van Aram:

“Kyk, Damaskus gaan verdwyn!

Dit gaan ’n puinhoop word.

2Die dorpe van Aroër

sal verlate word.

Skape sal in die strate wei.

Hulle sal daar lê

sonder om bang te wees

dat iemand hulle opjaag.

3Die versterkte stede van Israel

sal vernietig word,

en die mag van Damaskus

sal tot ’n einde kom.

Dié wat oorbly van Aram,

sal min mag hê

soos die Israeliete,”

sê die Here, die Almagtige.

4“In daardie dag

sal Israel verneder word.

Armoede sal die land oorneem.

5Israel sal so verlate wees

soos die graanvelde

in die Refaïmvallei

ná die oes af is.

6Min van sy mense sal oorbly,

soos die olywe

wat in die boonste takke

van die boom

agterbly ná die oes.

Slegs twee of drie

bly in die hoogste takke agter,

vier of vyf op die punte

van die takke.”

So sê die Here,

die God van Israel.

7Dan eers sal mense weer

aan hulle Skepper dink

en respek kry

vir die Heilige Een van Israel.

8Hulle sal nie meer hulle afgode

om hulp vra of dit aanbid

wat hulle met hulle eie hande

gemaak het nie.

Hulle sal nooit weer kniel

voor hulle Asjerabeelde

of wierook brand op die altare

wat hulle gemaak het nie.

9Daardie dag

sal Israel se toevlugstede

verlate wees,

verlate soos die boswêreld

wat die inwoners destyds

laat vaar het

toe die Israeliete die land

lank terug binnegeval het.

10Jy het jou rug gedraai

op die God wat jou kan red.

Jy het die Rots vergeet

by wie jy kon skuil.

Daarom,

al kry jy die beste gewasse

en plant jy ingevoerde

wingerdstokke,

11al sou jy die dag dadelik

dit wat jy geplant het,

kan laat groei,

en dit laat bot die oggend

dat jy dit plant,

sal jou opbrengs niks werd wees.

Jou enigste oes

sal siekte

en ongeneeslike smart wees!

12Kyk! Die soldate

van baie nasies

storm nader soos golwe

wat teen die kus breek.

13Al raas hulle soos branders

wat op die strand breek,

God sal hulle stilmaak.

Hulle sal wegvlug

soos kaf wegwaai

in die bergwind

of soos ’n tolbos in ’n storm dwarrel.

14Die aand nog wag Israel in angs,

maar teen sonsopkoms

is hulle vyande vernietig.

Dit is die verdiende loon

van die vyand

wat ons beroof.

Dit is die lot van dié

wat ons besittings plunder.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help