PSALMS 48 - Nuwe Lewende Vertaling

Die stad van God

1’n Lied. ’n Psalm van die Koragiete.

2Die Here is groot!

Hom kom toe die grootste lof

in die stad van ons God,

op sy heilige berg!

3Sionsberg,

daar teen die noorde,

is pragtig daarbo,

dis ’n vreugde

vir die hele aarde,

die stad van die Groot Koning!

4God self is in haar vestings;

Hy is bekend

as ’n toevlugsoord.

5Konings het saamgespan,

saam teen die stad opgeruk.

6Toe hulle die stad sien,

was hulle sprakeloos

en het verskrik

op die vlug geslaan.

7Angs het hulle aangegryp,

soos ’n vrou

met geboortepyne;

8angs soos toe die oostewind

die skepe van Tarsis

verwoes het.

9Ons het dit verneem,

dit self so gesien,

in die stad van die Here,

die Almagtige,

in die stad van ons God.

God sal dit vir altyd

vas laat staan.

Sela

10O God, ons oordink

u troue liefde

wanneer ons

in die tempel aanbid.

11Soos dit pas by u Naam,

o God,

so sal U geprys word

tot aan die eindes van die aarde.

U sterk hand

is vol regverdigheid.

12Sionsberg sal bly wees,

die dorpe van Juda sal juig,

want u oordele is regverdig.

13Gaan loop in Sion.

Loop rond

en tel al die torings.

14Kyk na die versterkte mure

en bekyk al die vestings,

sodat jy dit kan vertel

aan die geslagte ná jou.

15Want dié God

is ons God vir altyd.

Hy is ons God.

Hy sal ons

tot die einde toe lei.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help