JEREMIA 23 - Nuwe Lewende Vertaling

Die ideale koning

1Die Here sê: “Dit sal sleg gaan met die leiers, die herders van my volk. Hulle het my mense wat hulle moes versorg, uitmekaar laat spat en laat afdwaal.”

2Omdat dit so is, sê die Here, die God van Israel, vir hierdie leiers: “Julle het my mense soos skape uitmekaar laat spat. Julle was veronderstel om na hulle om te sien, maar julle het hulle weggedryf. Daarom sal Ek julle straf vir al die kwaad wat julle gedoen het.

3Daar is van my mense wat oorleef het in die lande waarheen Ek hulle verdryf het. Ek sal hulle almal bymekaarmaak en hulle na hulle eie land toe terugbring. Hulle sal baie kinders hê en weer groei in getalle.

4Dan sal Ek nuwe leiers voorsien wat na hulle sal omsien. Hulle hoef nooit weer bang of verskrik te wees nie. Nie een van hulle sal verlore raak nie,” sê die Here.

5Die Here sê verder:

“Daar sal ’n tyd kom

wanneer Ek weer

’n wettige afstammeling

uit Dawid se familie

koning sal maak.

Hy sal

’n verstandige koning wees.

Hy sal sorg dat reg geskied

en almal in die land

regverdige behandeling ontvang.

6“Sy naam sal wees:

‘Die Here is ons geregtigheid.’

Terwyl hy regeer,

sal Juda vrykom van al hulle vyande

en Israel sal veilig leef.”

7Die Here sê verder: “Mense lê gewoonlik ’n eed af en sê: ‘So waar as die Here, wat die mense van Israel uit Egipte bevry het, leef.’ Maar ’n tyd kom dat dit nie meer sal gebeur nie.

8In plaas daarvan sal hulle sê: ‘So waar as wat die Here lewe wat die mense van Israel na hulle eie land toe teruggebring het uit die land in die noorde en al die lande waar hulle in ballingskap was.’ Dan sal hulle weer in hulle eie land lewe.”

’n Boodskap oor die profete

9My hart is stukkend

oor al die vals profete

en ek bewe

so groot as wat ek is.

Ek slinger rond soos ’n mens

wat dronk is van te veel wyn

oor die heilige woorde

van die Here.

10Die land is vol ontroue mense.

Daar rus ’n vloek op die land,

sodat die land in rou gedompel is

en die weiding verdroog.

Want die profete tree boos op

en misbruik hulle mag.

11“Die priesters is net so

goddeloos soos die profete.

Ek het gesien wat hulle

selfs in my tempel aanvang,”

sê die Here.

12“Daarom sal hulle lewenspaaie

glad en donker wees.

Hulle sal verjaag word

op donker en verraderlike paaie

waarop hulle sal val.

Ek sal ellende oor hulle bring

in die jaar van my straf,

Ek, die Here, het dit gesê.

13“Ek het gesien

dat die profete van Samaria

’n walglike ding doen.

Hulle profeteer wat Baäl sê.

So lei hulle my volk Israel

op ’n dwaalpad.

14Maar nou sien Ek

dat die profete van Jerusalem

nog erger dinge doen.

Hulle is ontrou en leef vals.

Mense wat verkeerd doen,

moedig hulle aan

om daarmee aan te hou.

’n Mens sou eerder verwag dat

hulle mense sou aanmoedig

om op te hou om verkeerd

te doen.

Hulle is niks beter

as die mense

van Sodom en Gomorra nie!”

15Daarom sê die Here,

die Almagtige,

oor die profete:

“Ek sal hulle

bitterheid gee om te eet

en gif om te drink.

Want dit is die profete

van Jerusalem se skuld

dat al die mense van die land

so afvallig leef.”

16Die Here, die Almagtige, sê:

“Moenie luister

na hierdie profete nie.

Hulle boodskappe

skep vals hoop by julle.

Die visioene wat hulle oordra,

kom nie van die Here af nie.

Dit kom van hulleself af!

17Hulle hou aan

om vir die mense

wat my woord verag, te sê:

‘Die Here sê

julle sal vrede hê!’

Vir die hardkoppiges

wat net doen wat hulle wil,

sê hulle: ‘Niks slegs

sal met julle gebeur nie!’

18Wie van hulle

was al in die vergadering

van die Here

dat hulle gesien het

wat Hy doen

of gehoor het wat Hy sê?

Was daar enigeen van hulle

wat regtig wou luister?

19“Kyk, die woede van die Here

bars los soos ’n storm.

Dit is soos ’n warrelwind

wat ronddraai om die koppe

van die kwaaddoeners.

20Die Here se woede

sal nie afkoel

totdat Hy sy doel bereik het nie.

Julle sal binnekort

alles verstaan

wat aan die gang is.

21Ek het nie hierdie profete

gestuur nie;

tog is dit wat hulle voorgee.

Ek het nie vir hulle

boodskappe gegee nie;

tog profeteer hulle.

22As hulle na My geluister het,

sou hulle my boodskap

gehoor het

om oor te dra.

En my volk sou opgehou het

om al die verkeerde dinge

te doen

waarmee hulle besig is.

23“Is Ek miskien ’n God

wat net op een plek is?”

vra die Here.

“Dink hulle Ek sien nie

wat hulle doen nie?

24Dink enigiemand hulle kan

vir My wegkruip

en Ek sal hulle nie sien nie?

Is Ek nie oral,

in die hemel en op die aarde nie?”

vra die Here.

25“Ek het gehoor wat die profete sê: ‘Ek het gedroom, ek het gedroom.’ Dan profeteer hulle leuens en sê Ék het vir hulle die boodskap gegee.

26“Hoe lank nog sal profete voortgaan om mense te bedrieg? Die onwaarhede wat hulle kwytraak, het hulle self uitgedink.

27“Hierdie mense vertel vir mekaar van hulle drome. So probeer hulle om my mense van My te laat vergeet. Hulle voorouers het My destyds net so vergeet toe hulle Baäl begin aanbid het.

28“Laat hierdie profete hulle drome vir ander vertel. Maar dié wat my boodskap ontvang het, moet my woord eerlik oordra. Daar is ’n verskil tussen kaf en koring!” sê die Here.

29“Is my woorde nie soos ’n vuur wat brand nie? Is dit nie soos ’n hamer wat ’n stuk rots aan stukke laat spat nie?” vra die Here.

30Daarom sê die Here: “Ek is teen hierdie profete wat my boodskappe by mekaar steel.

31Ek is gekant teen hierdie gladdebek-profete wat sê: ‘Hierdie profesie kom van die Here self af!’

32Ek is gekant teen hierdie profete wie se drome niks anders is as hulle verbeelding nie. Dit is ’n spul leuens wat my mense laat afdwaal. Ek het hulle nie gestuur of aan hulle ’n opdrag gegee nie. Wat hulle sê, hou geen voordeel vir my mense in nie,” sê die Here.

Vals profesie en vals profete

33Die Here het vir my gesê: “As iemand van hierdie volk of een van die profete of van die priesters vir jou sou vra: ‘Wat is die boodskap waarmee die Here jou belas het?’ moet jy antwoord: ‘Julle is die las waarmee Hy my opsaal. Hy wil niks meer met julle te doen hê nie!’ sê die Here.

34As enige profeet, priester of enigiemand anders sê: ‘Ek het ’n ernstige boodskap van die Here vir julle,’ sal Ek daardie persoon en sy hele gesin straf.

35Hou liewer aan om vir mekaar te vra: ‘Wat het die Here geantwoord?’ of: ‘Wat het Hy gesê?’

36Moenie langer sê: ‘’n Ernstige boodskap van die Here’ nie. Julle gebruik dit om gesag aan julle eie idees te gee. Wat julle eintlik doen, is om die boodskap van ons God, die Here, die Almagtige, te verdraai.

37Vra vir die profete die volgende vraag: ‘Wat het die Here julle geantwoord?’ of: ‘Wat sê die Here?’

38Maar sê nou hulle antwoord: ‘Die Here het hierdie boodskap vir ons gegee!’ moet jy sê: ‘Die Here sê julle bly sê: Die boodskap kom van die Here af, selfs al het Ek julle gewaarsku om dit nie te doen nie.

39Omdat julle dit doen, sal Ek heeltemal van julle vergeet. Ek sal My glad nie meer aan julle steur nie. Dit geld ook hierdie stad wat Ek vir julle en julle voorouers gegee het.

40Ek maak dat mense met julle sal spot. Julle sal in die skande kom en niemand sal dit ooit vergeet nie.’”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help