JESAJA 25 - Nuwe Lewende Vertaling

Lofprysing oor oordeel en redding

1 Here, ek eer en prys u Naam,

want U is my God.

U doen wonderlike dinge!

U het dit lankal beplan,

en nou het U dit uitgevoer.

2U het ’n stad

in ’n puinhoop verander.

Die stad met sterk mure

het ’n rommelhoop geword.

Pragtige paleise in verre lande

het verdwyn

en word nooit weer herbou nie.

3Daarom sal sterk nasies

van u heerlikheid vertel,

genadelose volke U eer.

4Vir die armes

is U, Here,

’n toevlug in die storm.

Vir die behoeftiges in nood

is U ’n skuilplek

teen die hitte en die stortreën.

Die onderdrukkende dade

van genadelose mense

is soos ’n storm

wat slaan teen die muur,

5of soos sonsteek

in die woestyn.

Die geraas van vreemde nasies

het U laat ophou.

U koel die land af

met die skadu van ’n wolk.

So word die liedere

van genadelose mense

stilgemaak.

6In Jerusalem gaan die Here

die Almagtige,

’n heerlike fees voorberei

vir almal

oor die hele wêreld.

Dit gaan ’n fees wees

met goeie kos,

die beste wyn en die beste vleis.

7Daardie dag

sal Hy die wolk verwyder,

die skaduwee van die dood

oor die nasies.

8Hy sal die dood

vir altyd vernietig!

Die oppermagtige Here

sal al die trane afvee.

Hy sal alle beledigings

verwyder

van sy land

en sy mense.

Die Here het dit gesê.

9Daardie dag

sal die mense uitroep:

“Dit is ons God.

Ons het op Hom vertrou,

en Hy het ons gered.

Dit is die Here

op wie ons vertrou het.

Laat ons bly wees

omdat Hy ons gered het!”

10Want die Here se goeie hand

sal rus op Jerusalem.

Moab sal vernietig word

soos strooi wat vertrap is

op die mishoop.

11Hulle sal hulle hande

in die mishoop uitsteek

soos ’n swemmer

die hande uitsteek

om te swem.

Maar God sal hulle trots

beëindig

ten spyte van al hulle slimstreke.

12Die hoë mure van Moab

sal Hy platslaan,

hulle op die grond neergooi.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help