JOB 22 - Nuwe Lewende Vertaling

Elifas reageer ’n derde keer op Job

1Elifas die Temaniet

het geantwoord:

2“Kan ’n mens se dade

enige voordeel inhou

vir God?

Kan selfs ’n baie wyse mens

Hom help?

3Watter plesier

het die Almagtige daarin

dat jy regverdig is?

Baat Hy daarby as jy volmaak is?

4“Is dit oor jou eerbied vir Hom

dat Hy jou aankla

en veroordeel?

5Hoegenaamd nie!

Dis oor jou boosheid!

Jou skuld ken geen perke nie!

6Dalk het jy

geld aan jou vriend geleen,

en sy klere gehou as borg.

Hy moes rondloop sonder klere.

7Miskien wou jy nie water gee

vir die dorstige,

en kos vir die hongerige nie.

8Jy, ’n ryk man,

het grond besit.

Mense het jou geëer.

9Tog het jy weduwees

sonder hulp weggestuur.

Of jy het weeskinders

dakloos gelaat.

10Dit is waarom jy omring is

met strikke

en jy ’n skielike ramp vrees.

11Daarom kan jy nie

in die donker sien nie

en vloedwaters stroom oor jou.

12God is so groot,

hoër as die hoogste hemel,

verder as die verste ster.

13Maar jy sê:

‘Dis hoekom God nie kan sien

wat ek doen nie!

Hoe kan Hy oordeel

deur so ’n diep duisternis?

14Want dik wolke omhul Hom.

Hy kan ons nie sien nie.

Hy loop daar bo in die hemel rond.’

15Wil jy aanhou loop

op die ou paaie

van goddelose mense?

16Hulle is weggeruk

in die fleur van hulle lewe,

en die dinge

waarop hulle

hulle lewe gebou het,

het weggespoel.

17Hulle het mos vir God gesê:

‘Los ons alleen!

Wat kan die Almagtige

aan ons doen?’

18Want hulle het vergeet

dat Hy vir hulle

huise gegee het

vol goeie dinge.

Ek wil niks te doen hê

met hulle lewenswyse nie.

19“Die regverdige sal bly wees

om te sien

hoe goddeloses ondergaan.

Die onskuldiges lag

en spot met hulle.

20Hulle sê:

‘Ons vyande is vernietig!

Alles wat hulle gehad het,

het verbrand!’

21“Onderwerp jou aan God,

dan sal jy vrede hê

en sal alles met jou

goed gaan.

22Luister na sy voorskrifte

en bêre hulle in jou hart.

23As jy terugkeer

na die Almagtige

en jou lewe skoonmaak,

sal jy herstel word.

24Los jou sug na geld,

en gooi jou kosbare skatte

in die rivier.

25Dan sal die Almagtige self

jou rykdom wees.

Hy sal vir jou wees

soos kosbare silwer.

26Dan sal jy bly wees

oor die Almagtige

en sal jy opkyk na God.

27Jy sal tot Hom bid,

en Hy sal jou hoor.

Jy sal doen

wat jy Hom belowe het.

28Wat jy besluit om te doen,

sal gebeur.

Dit sal lig wees

op die pad voor jou.

29As iemand val

en jy vra

dat God hulle optel,

sal Hy hulle red.

30Hy sal selfs sondaars red,

hulle sal verlos word

omdat jy onskuldig is.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help