JOB 38 - Nuwe Lewende Vertaling

Die Here

daag Job uit

1Toe het die Here

Job uit ’n stormwind

geantwoord:

2“Wie is dit

wat my wysheid bevraagteken

met woorde van onkunde?

3Staal jou!

Ek sal die vrae stel,

en dan antwoord jy My.

4“Waar was jy

toe Ek die fondasie

van die aarde gelê het?

Sê My as jy so baie weet!

5Wie het die aarde opgemeet?

Jy weet tog seker!

En wie het die maatband

oor die aarde gespan?

6Waarop rus die fondasie

van die aarde?

En wie het sy hoeksteen gelê?

7Toe het al die môresterre

saamgesing

en die hemelse wesens

het van vreugde gejuig.

8“Wie het die grense van die see

vasgestel

toe dit uitgeborrel het

9en Ek dit bedek het met wolke

en dik duisternis?

10Ek het grense vir hom gestel.

Ek het hom

agter slot en grendel gesit.

11Ek het gesê:

‘Jy mag tot hier kom,

en nie verder nie.

Hier moet jou trotse golwe breek.’

12“Het jy ooit die môre beveel

om te verskyn?

Het jy die dag laat breek

in die ooste?

13Het jy al die lig opdrag gegee

om oor die aarde te sprei

sodat die nag se boosheid

kan ophou?

14Die aarde neem vorm aan

soos die lig toeneem.

Dit neem vorm aan

soos voue in ’n kledingstuk.

15Die lig versteur die rooftog

van die kwaaddoener.

Hulle kan nie meer die arm lig

om geweld te pleeg nie.

16“Was jy al by die fonteine

waar die see ontspring?

Het jy al daar rondgeloop

en sy dieptes verken?

17Weet jy waar die ingang

van die doderyk is,

waar die donkerte skuil?

18Begryp jy hoe groot

die aarde is?

Sê My as jy dit alles weet.

19“Waar kom die lig vandaan?

En waarheen wyk

die donkerte?

20Kan jy hulle terugvat

na hulle huis toe?

Weet jy hoe om daar uit te kom?

21Natuurlik weet jy dit alles!

Jy is mos gebore

voor dit alles geskep is.

Jy het nou al soveel ervaring!

22“Was jy al by die skatkamers

van die sneeu?

Het jy al gesien waar die hael

gebêre word?

23Ek gaar dit op

vir ’n tyd van rampe,

vir die dag van stryd en oorlog.

24Waar is die pad

na die oorsprong van lig?

Waar is die tuiste

van die oostewind?

25Wie grawe ’n kanaal

vir die stortreën?

Wie maak ’n pad

vir die weerlig?

26Wie giet reën

oor die droë grond,

in ’n woestyn

waar niemand woon nie?

27Wie stuur die reën

wat die droë land natmaak

sodat groen gras uitspruit?

28Het die reën ’n vader?

Waar kom dou vandaan?

29Wie is die moeder van ys?

Wie gee geboorte aan ryp

uit die lug?

30Dan word water so hard

soos ’n rots,

en die watervlak verys.

31“Kan jy die Sewester vasknoop?

Of die bande van Orion losmaak?

32Kan jy sorg dat die sterre

op die regte tyd opkom?

Kan jy die Beer met sy kleintjies

laat uitkom?

33Ken jy die wette

van die natuur?

Weet jy hoe God

oor die aarde regeer?

34“Kan jy met die wolke praat

sodat hulle begin reën?

35Kan jy weerligstrale maak,

en dit laat tref soos jy wil?

36Wie gee intuïsie en instink

aan die mens?

37Wie is slim genoeg

om die wolke te tel?

Wie kan die waterkanne

van die hemel omkeer

38wanneer die grond droog is

en die kluite kliphard?”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help